God se Woord in vandag se woorde

’n Bynaam vir jou


Hier by die seunskool op die dorp word omtrent elke graad sessie met ’n naam beslaan. As daar ’n ouer broer is, kry jy sommer sy naam of ’n verwerking daarvan. ’n Man met rooi hare word maklik Vlam of Bontjors. Baie manne hou die name vir die res van hulle lewe.

’n Vriend van my dogter se naam is Pamela – dit is hoe almal hom ken. Ek vra toe uit nuuskierigheid waar hy dan so ’n naam kry. Hy vertel toe dat hy as ’n skaam graad 8-klong nie eintlik iets gehad het wat uitstaan nie. Met die gekopkrap vra een van die matrieks: “Is jy ’n boude of ’n borste man?”

Skoon uit die veld geslaan kom daar nie ’n woord uit sy mond nie. Die groot matriekseun bulder weer: “Is jy ’n boude of ’n borste man?” Verbouereerd sê hy sag, “borste”. Die matriekseun haak af: Dan is jy van nou af Pamela (met verwysing na die wel bedeelde Pamela Anderson – die aktrise.)

En tot vandag toe nog ken sy vriende hom net by dié naam.

Êrens langs die pad kry ons ’n bynaam wat iets wat ons gedoen of nie gedoen het nie beskryf. Ek was en is nog steeds vir my skoolvriende Bulle, want ek het glo soos John Foster (wie se eerste naam Balthazar was – hoe hulle van Balthazar by Bulle uitgekom het, sal net hulle weet!) gepraat.

Ons ander vriend was Bok Tanneman, want hy het met Blaartjie uitgegaan (jong bokke hou mos van ou blare …). Die Tanneman-agtervoegsel kom van ’n insident waar ek hom met my motorfiets getrek het, hy van sy fiets afgeval het en in die proses al sy voortande verloor het.

Elke bynaam het ’n lekker storie.

En so deur die lewe kry ons ook name. Ons kollegas sal maklik praat oor die kwaai of goeie baas. Ons vriende kan van ons praat as die ou wat so lekker vleis braai of die grapkas. Of dalk die ene wat verstrooid is. Dalk praat vriende van ’n ander as Moeder Theresa, want hy of sy gee so baie om.

Sommige is mooi. Sommige nie so aangenaam nie.

Paulus se een vriend het ook ’n naam gekry – nie so ’n lekker naam nie: 10Demas is Tessalonika toe. Hy is nie meer by my nie, want hy het te lief geraak vir die dinge waarvan God nie hou nie.

Demas, Wêreldliefhebber of Rugdraaier of Verraaier. Dis nie lekker name nie. Maar Demas het dit ongelukkig verdien, want die roeping om agter Jesus aan te stap, was net te veel vir hom. Die wêreld met al sy oënskynlike lekker dinge het hom soos ’n magneet aangetrek. Die kragte was te sterk en hy het die verkeerde keuse gemaak.

Vir die res van sy lewe dra hy swaar aan sy titels.

Ek wonder watter name sal ek kry as ek vir my gesin vra om vir my ‘n naam te gee wat my wese opsom. Ek wonder watter naam sal my vriende en kollegas vir my gee.

Ek wonder watter name sal die mense met wie jy elke dag skouers skuur vir jóú gee.

Wonder jy ook?

Teks
2 Tim 4:9-18

Om oor na te dink
Watter naam sal ander vir jou gee?
Hoekom?
Is daar ’n paar aanpassings wat jy moet maak?

Gebed
Here, help my asseblief om nie die reguit pad te verlaat en te verdwaal nie. Met U in my, kan ek die sondige wêreld met al sy aanloklikhede oorwin. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek