God se Woord in vandag se woorde

’n Coke, 2 liter melk, ’n pastei en 2kg koekmeel


Dis Sondag en my maag fladder oor die klomp werk wat voorlê die week. Toe ons uit die kerk kom, besluit ek dit sal lekker wees om ’n worsie te braai en saam met my gesin om die vuur te kuier.

Maar niemand het hulle beursies by hulle nie. My seun sê toe dat hy met sy foon kan geld trek en ons vra hom om R100 te trek – die kinders is ons darem altyd een voor en ons stop by die bank.

Sy banktransaksies registreer via ’n sms op my vrou se selfoon en terwyl ons in die kar vir hom sit en wag, merk sy op dat hy R300 getrek het. Toe hy terugklim in die kar, sê hy daar was R3 000 in sy rekening en hy het sommer 10% daarvan getrek om homself met sy tiende te bederf. Ek snap dadelik dat hy sy ma se been trek.

Hy het die ekstra R200 getrek omdat hy iemand daarmee wil seën.

Hy stap saam met my by die winkel in, maar stap toe in sy eie rigting. Ek kry eers weer by die toonbank ’n kykie in sy aankope: ’n bottle Coke, 2 liter melk, ’n pastei en 2kg koekmeel.

Met die uitstapslag sê hy ons moet net bietjie wag, hy kom nou. Na ’n kort rukkie kom hy sonder die inkopies by ons motor aan.

My vrou sê vir hom dat die Here nou seker met ’n groot glimlag sit. Hy sê ja, seker net so groot soos die sekuriteitswag s’n.

“Wat het jy vir hom gesê?” vra my vrou: “Remember God loves you and God bless”.

Dis nou die volgende oggend en ek raak stil by die volgende vers: 18Vra hulle om hulle geld te gebruik om arm mense mee te help. Hulle moet nie suinig wees nie en moet graag met ander deel wat hulle het.

Ek glo nie in toeval nie.

Soos die Engelsman sê: “Enough said …”

Teks
1 Timoteus 6:17-21

Om oor na te dink
Hoe ervaar mense jou beursie?
Of ervaar hulle dit glad nie?
Waar kan jy gee?

Gebed
Here, ek weet ek het ’n bietjie werk in my beursie nodig. Omtrent alles wat daaruit gaan, is vir my. Ek weet ek moet meer vir ander gee, maar weet nie hoe en waar nie. Sal U my help om my geldsake reg te bestuur sodat ek ook eerste vir ander kan gee. Amen.

 

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek