God se Woord in vandag se woorde

’n Groot winskoop om vir almal te vertel


Sodra my vrou ’n groot winskoop raakloop, moet sy dadelik kom vertel hoeveel geld sy gespaar het. Ek wonder of sy al ooit volprys vir ’n kledingstuk betaal het? Maar wag, kom ek los eerder die voorbeeld, want nou beweeg ek op gevaarlike grond!

Nee, eintlik is ek ook so. Sodra ek ’n goeie kamera of ’n halwe skaap, eintlik enige iets teen ’n goeie prys raakloop, moet ek dit met almal deel. Ek wil hê dat hulle ook in die winskopies moet deel. Selfs al kan ander nie noodwendig deel in my goeie kopie nie, moet ek dit so vêr as moontlik vir almal vertel. Is jy ook so?

Ek is seker daarvan dat jy weet watter groot winskoop God vir ons elkeen gee: die Ewige Lewe. 2Dit bring groot sekerheid in hulle harte dat die ewige lewe op hulle wag. Nog lank voordat die wêreld daar was, het God al beloof dat Hy vir almal wat in Hom glo, ’n groot geskenk het: die ewige lewe! 

Onsekerheid in vandag se lewe kom maak so maklik in baie van ons se lewens lêplek. Ons is onseker of ons môre nog ’n werk gaan hê. Ons is onseker of ons aan die einde van die maand genoeg geld gaan hê. Sommige is dalk onseker of hulle aan die einde van die maand nog ’n eggenoot gaan hê. Dalk is daar mense wat net onseker is oor die lewe, want soveel curve balls het die afgelope tyd na jou kant toe gekom, dat jy al bang is om net jou kop by die deur uit te steek.

Gelukkig kry ons nou die boodskap van een groot stuk sekerheid wat in ons pad gestoot word: die ewige lewe. Niks en niemand kan hierdie groot winskoop van ons wegneem nie. Maak nie saak wat gebeur nie, maar die dag as ek vir die laaste keer my kop neerlê, weet ek dat ek hemel toe gaan. Niemand kan dit van my steel nie. Dit is nie ’n pypdroom nie. Dit is ’n werklikheid waaraan ons elkeen in die onsekere wêreld kan bly vashou. God het dit verniet vir my kom gee. Hy het my sondes kom wegneem en die las vir my gedra.

Soms is dit al sekerheid in my onsekere dag. En dit geld vandag nog: 3Nou, op presies die regte tyd het God hierdie goeie nuus aan my kom bekendmaak. Hy het ook vir my gesê om dit aan ander mense te gaan oorvertel. En wat ’n wonderlike werk is dit nie om te preek dat God ons Verlosser is nie!

Die winskopie van die lewe, en tog saai ek dit nie oor die wêreld uit nie. Ja, ek saai uit van die klere en die kar en die kamera en die skaap, want ek wil hê ander moet ook deel in die winskopies, maar die grootste gelukkie wat ’n mens ooit van kan droom, kry jy gratis in jou skoot en ons bly tjoepstil daaroor. Die bes bewaarde geheim ooit!

Ek wonder hoekom is dit so? Dalk is dit omdat ons nie presies weet hoe dit gaan wees nie en eintlik so lank as moontlik hier op aarde wil bly. Dit is egter nie genoeg vir ’n verskoning nie. Ja, ons is mense en ek kan nie altyd so opgewonde wees om alles hier te los en dood te gaan nie, maar tog weet ons in ons agterkop daar is ’n winskopie. En dit bring tog rus en sekerheid. Maar kom ons hou nie die bes bewaarde geheim van ons familie en vriendekringe weg nie.

Kom ons maak ’n punt daarvan om ons familie, vriende, kollegas en sommer die vreemdeling wat oor ons pad gestap kom, ook te vertel van die groot winskoop. Ek wil jou uitdaag om sommer net ’n e-pos te stuur aan ’n paar mense wat byvoorbeeld as volg kan lyk: Jis, het jy gehoor van die ongelooflike winskopie? Dit is gratis vir almal wat glo! Die hemel is oop vir álmal wat in God glo. Al is alles in jou lewe dalk nie nou uitgesorteer nie, kan jy gerus wees, want ten minste is die lewe hierna uitgesorteer!

4… Die goedheid en vrede van God ons Vader en Christus Jesus, ons Verlosser, is ook by jou.

Om oor na te dink
Glo jy in die winskopie van die ewige lewe?
Glo jy dat jy hemel toe gaan?
Wie moet jy van die winskopie vertel?

Teks
Tit 1:1-4

Gebed
Vader, dankie klink nou so klein. Baie dankie vir die grootste winskopie van my lewe. Dankie dat die Ewige Lewe op ’n skinkbord gratis vir my aangedra is deur Jesus wat aan die kruis gesterf het. Vader, U is so goed! Help my om dit aan almal om my uit te blaker, sodat niemand eendag daar uit die hel vir my kan skree: Hoekom het jy my nooit vertel nie? Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek