’n Heilige, onberispelike, onbesmette lewe
As jou kind of ’n geliefde na jou toe kom en die volgende vrae vir jou vra, wat sal jou eerlike antwoord wees? Is jy heilig, sonder gebrek en onberispelik? Wel, ek ken myself baie goed en ongelukkig kan ek nie op een van die drie vrae ja sê nie. Ek vermoed jy sal dalk ook soos al ons ander ons koppe moet laat sak en erken dat ons nie die pyp rook nie.
Êrens deur die dag maak ons verkeerde keuses en ons duik in die hek.
En tog, as God na my en jou kyk, sien Hy ons almal as heilig, sonder gebrek en onberispelik. Hy sien nie ons onheilige optredes, gebrek en berispelike gedrag raak nie. En dit is alles te danke aan Jesus se kruisdood. Sy bloed wat gevloei het, het dit moontlik gemaak dat God ons in ’n ander lig sien.
22Die Seun het vrede kom maak tussen God en julle. Juis daarom het hulle Hom liggaamlik doodgemaak. Sy doel was egter om so van julle iets besonders te maak. Hy wil dit so bewerk dat julle God heeltemal tevrede sal stel sodat daar niks in julle is waarvan God nie hou nie.
Die 1933-vertaling sê dit so mooi: 21Hy het julle nou versoen 22in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel;
God sien jou as ’n heilige. Hy sien jou sonder enige gebrek. Hy sien jou dade wat onberispelik is. En eintlik wil ek in alle eerlikheid my hand opsteek en vir Paulus in die rede val en sê, nee, jy ken nie vir my nie. Dis nie die waarheid van my lewe nie, inteendeel! Jy moet net so vir ’n dag of twee saam met my loop, dan sal jy die kolle van onheiligheid raaksien. Jy sal sien hóé gebrekkig my dade is en dat ek dit verdien om telkemale oor my vingers getik moet word vir my gedrag.
En dan klink Paulus se woorde deur my kop: Jesus het vrede kom maak tussen jou en God. God sien jou as heilig, sonder gebrek en onberispelik. Klaar. Maak nie saak hoe jou verlede lyk nie. Maak nie saak wat jy van jouself dink nie. Maak nie eens saak wat die realiteit is nie. God kyk anders na jou.
Dit maak nie lekker vir my sin nie, want dis eintlik te groot om te verstaan. Ja, ek is maar net mens en verstaan nie altyd God se dinge nie. Dit is op ’n ander vlak.
Ja, dis moeilik om te verstaan, maar Jesus se bloed wat gevloei het, maak ons onberispelik voor God. Ons hoef nie meer berispe te word vir die verkeerde dinge wat ons gedoen het nie. Ons hoef nie meer gestraf te word vir ons sonde nie, want Jesus het klaar die straf daarvoor gedra.
Sjoe, word jy nie ook oorval met dankbaarheid nie? Wil jy nie nou ook iets doen omdat jy dankbaar is vir God se intervensie in jou lewe nie? Wel, dalk is dit dan juis nou ’n goeie idee om presies só te lewe soos God ons sien: heilig, sonder gebrek en onberispelik. Net so tussen hakies, die 1983-vertaling vertaal “sonder gebrek” met “sonder smet”. Ons moet só lewe dat daar nie verkeerde dade is wat ons besmet nie.
Mag ons saam probeer om só te leef soos God ons sien. Mag ander na ons kyk en sien dat ons heilig is, onberispelik en sonder dat daar enige teken van besmetting van die sonde sigbaar is nie.
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Sien jy jouself as heilig, onbesmet en onberispelik?
Wat het Jesus reggekry?
Hoe kan jy jou lewe verander dat jy meer heilig, onbesmet en onberispelik lewe?
Gebed
Onse Vader en Jesus Christus, ek verstaan nie alles nie. Ek verstaan nie dat U my as heilig, onbesmet en onberispelik sien nie. Ek weet dit is Jesus se bloed wat dit reggekry het. Daarom kan ek nie anders as om my lewe ook in lyn te kry nie. Gee my krag en wysheid om dit so te leef. Amen.