God se Woord in vandag se woorde

’n Humeur om te beteuel


Shannon is aan die woord:

Ek het Saterdagoggend na ons plaaslike winkel gegaan om my vleisbestelling te gaan afhaal. Net voor my in die parkeerarea, het ‘n bejaarde paartjie ‘n bietjie langer gevat om geparkeer te kry. Ek het teen my ou natuur geduldig gewag vir kardeure om toegemaak te word en dat hulle nou die kar moet uitlos. Ek het selfs ‘n duim op vir die ou omie gewys en dat ek sal wag totdat die tante nou klaar maak met goed skuif op die agterste sitplek en sakke kry vir hulle inkopies. 

Ek parkeer toe reg langs hulle en toe ek om my motor kom om ook inkopies te gaan doen, sien ek iets wat my hare laat rys. ‘n Ander bejaarde man, baie groter as my buurman, is besig om hom met die borskas rond te stamp en lelik uit te vloek oor my buurman dan nou te stadig was om geparkeer te kry. Maar die kwaai oom was alreeds geparkeer toe ek en buurman parkeer het. 

Ek raak mos warm onder die krag as ou mense bedreig word. Ek het heel vriendelik vir die oom gesê dat hy dinge moet rustig vat en ontspan. Dit is darem Saterdag. 

Draai die groot oom mos om en begin my te vloek met mening. My oorlede ma word ook sommer gegroet onder die rok uit. Nou verstaan dit gou – ek is ‘n klein geboude vrou wat, ongelukkig vir die oom, jare se vegkuns agter die rug het en al is my hare grys, lyk ek nie my ouderdom nie, sonder botox en dinge. Goeie gene. Ek kan ‘n man ongeag sy grote, baie seer maak. 

En ek het ‘n humeur en ‘n mond wat baie mans sal twee maal sal laat dink om my aan te vat. Ek raak nie common nie, maar staan beslis op my menslike regte. 

So ver ons loop, gesels die oom oor alles wat onder my rok is en waarna ek toe kan … voor die skuifdeur van Spar waar jy deurloop om die winkel binne te gaan en reg voor by die kasregisters besluit die oom om my te stamp.

Almal staar na my en die oom. Ek het toe maar koppie opgetel en slagter toe beweeg. Die egpaar wat die kwaai oom aangeval het, kom toe na my toe en bedank my. Die tante is ‘n kankerpasiënt wat opvallend erg pyn het en baie skeef loop. 

Die kwaai oom het wragtig agter hulle aangeloop in die winkel om verder vuur te blaas. Ek het toe maar oppasser gespeel tot hulle klaar was met inkopies en toe weer my ding in die winkel gaan doen.

Al waaraan ek gedink het was dat die Heilige Gees hier reg langs my geloop het en ek kon my humeur deeglik in toom hou.

Shannon besef haar swakheid. Maar sy los dit nie so nie. Sy werk daaraan. Sy kry hulp en vra die Heilige Gees om haar hand te neem. Hier waar ’n ou buffel erg skoor soek kon sy dit regkry om die regte ding te doen en haar humeur op hok te hou.

6… Hy/Sy moenie vol van haar/homself wees nie, ook nie kort van draad en humeurig nie.

Ek moet dit ook erg probeer!

Teks
Tit 1:6-10

Om oor na te dink
Hoe maklik ref jou enjin?
Waar moet jy anders praat en optree?
Hoe gaan jy dit regkry?

Gebed
Here, vergewe my waar ek te gemaklik en gewoond geraak het aan my swakheid. Help my om te glo dat nie eens my woede te groot is vir U om te tem nie. Help my om die stryd teen my emosies en trots te wen en soos U te wees. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek