God se Woord in vandag se woorde

‘n Jas vir die koue


Jakkie skryf daar uit Namibië:

Die laaste Kruispad stuk laat dink my aan ’n dag kort nadat ek my winkel begin het. Dit was ’n Dinsdag, middel van die maand, verkope was pateties en my gemoed in my skoene. Ek kry ’n oproep van ’n man en onmiddellik kan ek agterkom dat die man iets van my wil hê. Terwyl ek voel dat ‘gee’ die laaste ding is wat ek nou kan doen (want ek wandel op die oomblik in Vertwyfelstraat), luister ek hoflik, maar half onwillig.

Hy sê toe dat hy nie geld wil hê nie, maar dat daar ’n jong lekeprediker is wat Namibia se suide wil aanpak om siele te wen vir ons God en dat dit al baie koud was. Het ek nie vir die jongeling iets warms om aan te trek nie?

Ek sê toe vir die oproeper om die man te stuur. Ek sou dieselfde middag ’n paar tweedehandse, Sweedse weermagjasse vanuit Windhoek kry en die jongeling kan maar een kom haal.

Die volgende dag, Woensdag, om 10h00 het ons nog nie ’n enkele verkope nie en mismoedigheid loop hoog, toe ’n jong man die winkel instap en sê -vra dat hy ’n baadjie mag kom haal? Vanaf die tyd wat die jongeling ingestap het totdat hy die winkel met sy baadjie verlaat het, was dalk nie eers twee minute nie en as jy my ’n oomblik later gevra het hoe die man gelyk het, sou ek jou nie ’n beskrywing kon gee nie.

Ek het ook nooit weer van die oproeper, of die jongeling, gehoor nie.

4Ek het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en daarom baie omgee vir al God se kinders.

Uit die storie is dit baie duidelik dat vers 4 ’n goeie beskrywing van Jakkie is.

Dis sulke stories wat vir my die Bybel oopbreek in gewone taal. As jy in Christus glo, is daar ’n reaksie. Geloof loop altyd uit in dade. Omgekeerd is dan seker ook waar: As daar nie dade is nie, word daar ’n groot vraagteken agter die geloof gesit. Kan geloof sonder dade bestaan? Ek dink nie so nie.

Wanneer ’n mens in Jesus glo, besef ’n mens die groot geskenk wat Hy vir ons gegee het. Die feit dat ons nie meer hoef pak te vat vir ons sondes nie, oorval my hele wese met dankbaarheid. Dis juis die dankbaarheid wat oorloop en plekkies soek om ander te help en te seën.

Jakkie se e-pos stop egter nie hier nie. Hy vertel opgewonde wat verder gebeur het:

En nou die verstommende: Net nadat die jongeling vort is, kry ons ’n ongekende toestroming van kliënte in die winkel en ons hardloop omtrent rond om almal te bedien.

Toe ek die aand die inkomste vir die dag bepaal, blyk dit dat ons dieselfde dag die hoogste omset ooit, behalwe vir 24 Desember die vorige jaar, beleef het. Dink jouself in: VIER pool tafels op een dag, almal deur verskillende kliënte, in vergelyking met een gemiddeld per maand!

Nou besef ek: Die Here toets ons somtyds en as Hy sien daar is liefde in jou hart en jy gee gehoor aan Sy stem al besef jy nie Hy praat met jou nie, beloon Hy ons, al het ons dit nie verdien nie. En die jongeling wie se gesig ek nie eers vir ’n breukdeel in tyd kon onthou nie – dalk was dit ’n engel?

Nee, daar is nie altyd so ’n “beloning” as ons goed gedoen het nie, want dis alles net uit genade. Tog kan ons mos nie anders as om uit dankbaarheid ander te help in hulle nood nie. As ons dan so uit ons sokkies geseën word, dan is dit ’n bonus.

Mag die mense om ons ook die volgende van ons sê: 4Ek het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en daarom baie omgee vir al God se kinders.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:1-8

Om oor na te dink

Hoe lyk jou geloof?

Hoe lyk jou dankbaarheid?

Hoe lyk jou dade?

Gebed

Sjoe, Vader. Hoe maklik raak ons gewoond aan die lewe en vergeet ons om ons dankbaarheid in dade om te sit. Help my om die nood raak te sien en ’n verskil daaraan te maak – uit dankbaarheid en nie omdat ek moet nie. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?