God se Woord in vandag se woorde

’n Knielende lewe


Filippense 2:6-11

Ek hou nie van sci-fi flieks nie. Nog minder van horror flieks. Ek het nie ’n maag daarvoor nie. Ek is sommer van die begin af al bang en dan staan ek op en gaan doen niks op ’n ander plek.

Ek dink as jy al dié soort flieks wat al ooit gemaak is, bymekaargooi, sal jy nog steeds nie kom by die plek waar Jesus in die doderyk vir ’n paar dae vasgedruk was nie. Hoe afstootlik, grillerig, doods en watter swart woorde ’n mens nog kan uitdink moes dit vir Jesus gewees het. Net mooi die teenoorgestelde as wat Hy aan gewoond was. Hy is tot die dood toe verneder.

Gelukkig weet ons dat die verhaal nie hier eindig nie: 9Maar God het Hom uit die diepte van vernedering gehaal en Hom die hoogste eer gegee wat God iemand kan gee. Nou is niks en niemand belangriker as Hy nie en niks en niemand kan ook belangriker as Hy wees nie. God self het so besluit.

You cannot keep a good man down.

Ons is innig dankbaar dat Jesus die doderyk oorwin het. God was ook baie dankbaar daarvoor en daarom het Hy vir Jesus nou die belangrikste persoon gemaak. Al die mense op die aarde staan nou ’n kans om die hemel in te loop, net deur wat Jesus gedoen het. Ek kan verstaan dat God Hom die grootste ereposisie langs Hom gegee het.

10Net mooi almal sal voor die grote Christus moet buig, maak nie saak wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie. Selfs dié wat lankal dood is, sal voor Jesus moet buig. 11Hulle almal sal met oortuiging vir mekaar sê: “Jesus Christus is die Here.” So sal almal ook besef hoe groot en belangrik God die Vader is.

Jesus verdien dit, vir seker! Jesus het op sy eie skouers elkeen van ons se skuld gedra. Dit is as gevolg van Hom wat ek en jy nou die Ewige Lewe kan ingaan. Daarom verdien Hy al die eer wat ons hier op die aarde kan bymekaarmaak. Jesus verdien om die belangrikste posisie in die hemel in te neem. Hy wat eers deur die doderyk moes gaan en nou aan God se regterhand sit.

Die vraag is: Wat verander dit aan my en jou lewe hier op aarde? Ons is nog nie in die hemel nie, maar tog weet ons wat Jesus vir ons gedoen het. Dit moet mos ’n impak maak op hoe ons vandag lewe? Ja, vir seker moet dit ’n invloed hê op hoe ons deur die lewe loop.

Die ou vertaling sê dat elke knie sal buig voor Jesus en dit is presies hoe ons lewe moet lyk – ’n lewe waar ons knielend voor Jesus leef. Wanneer ’n mens voor Jesus kniel, is daar nie plek vir lelik wees en baklei met ander nie. Nie eens plek vir die eie ek om op te staan nie. Nee, hier van onder af sien ’n mens die nood van ander raak, is jy in hulle onmiddellike omgewing en kan en wil jy iets doen.

Jesus was nie too high to come by nie. Jesus was tussen die gewone mense waar Hy ’n groot impak gemaak het. Wanneer ons voor Hom kniel en so saam met Hom deur die lewe stap, sal ons outomaties ander se nood raaksien en iets daaraan doen.

Mag dit waar wees van elkeen van ons se lewe!

Om oor na te dink

Glo jy in Jesus?

Kniel jou lewe?

Sien jy ander raak?

Gebed

Vader, ek buig voor U Seun, Jesus, want Hy is ons Here. Mag my lewe getuig dat Jesus die koning van my hart is en dat ek alles wat ek doen, vir Hom doen. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek