God se Woord in vandag se woorde

’n Koppie koffie op die lewe


Filippense 1:12-18

As jy lewe het jy ’n baie goeie kans dat die lewe jou een of ander tyd ’n dwarsklap gaan gee of dalk sommer ’n paar. En as jy ’n kind van God is, beteken dit nie noodwendig dat jy ’n paar van die klappe gaan vryspring nie. Inteendeel. So die vraag is nie of ons ’n klap gaan kry nie, want dis ’n gegewe. Die vraag is eerder wat gaan my reaksie op die klap wees.

Toe ‘n jong vrou eendag by haar Ma huil en moedeloos haar lewe beskryf asof sy net wil handdoek ingooi, neem haar Ma haar sonder ‘n woord kombuis toe. Sy neem drie kastrolle en vul elk met water. In die eerste plaas sy ‘n paar wortels, in die tweede ‘n paar eiers en in die derde gemaalde koffiebone.

Toe sit sy dit op die stoof en laat dit kook… Twintig minute later skakel sy die plate af. Sy haal die wortels uit die kastrol, toe die eiers en laaste die heerlike geurige koffie en vra haar dogter: “Wat sien jy?” … “Wortels, eiers en koffie,” antwoord sy.

Die Ma laat voel haar toe aan die wortels… Dit was sag gekook. Sy dop ‘n eier af en laat haar voel aan die klipharde eier… Daarna skink sy vir haar ’n heerlike, geurige beker koffie.

“Elk van die drie het dieselfde krisis deurstaan – KOKENDE WATER”, verduidelik haar Ma. “Maar elkeen het verskillend reageer. Die wortel is hard en onverbiddelik die water in, maar dit het sag en swak daar uitgekom.

Die eier was broos en sag. Die dun dop het die vloeibare inhoud beskerm. Maar die kookwater het die binnekant verhard. Die gemaalde koffiebone het uniek reageer. IN PLAAS DAARVAN dat dit verander het, het dit die KOOKWATER waarin dit was, verander.”

“Watter een is jy?” vra sy die dogter. “As krisis en pyn aan jou deur klop, hoe reageer jy? Soos die eier, die wortel of die koffiebone?” “Baie mense swig onder die druk van krisisse en word kragteloos… Ander lyk oënskynlik maar nog net dieselfde van buite, maar binnekant is dit kliphard. Sal dit nie wonderlik wees as ons soos die koffiebone kan reageer nie?” (Skrywer onbekend)

God staan ons nie net by nie, maar Hy vorm ons ook in die swaar tye. Dit is nie altyd lekker om dit te hoor nie en soms klink dit soos goedkoop troos, maar God gebruik die krisistye tot ons voordeel. Hy kap die dinge af wat nie in sy prentjie van ons pas nie. Baie keer is dit seer en glad nie lekker nie.

Neem nou maar vir Paulus as voorbeeld. Hy sit in die tronk. Die omstandighede in daardie tyd was glad nie soos vandag nie. Geen TV. Geen beddens. Geen niks nie en tog het hy wysheid om die krisis waarin hy is, reg te gebruik. Hy spring nie op en af en raas met God, omdat Hy nie vir Hom cover nie. Hy gooi nie sy speelgoed uit die cot nie. Hy sien deur die krisis en gebruik dit om ander te bemoedig. Nie net die mense aan wie hy die brief rig nie, maar ook vir miljoene mense daarna.

12My liewe vriende, ek wil julle graag iets vertel. Al die dinge wat so met my gebeur, lyk of dit sleg is, maar eintlik is dit goed. Hoekom is dit goed? Dit help die verkondiging van die evangelie aan.

Met groot versigtigheid, sonder goedkoop troos, wil ek jou uitnooi om ’n koppie koffie te maak en op ’n stil plek te gaan sit. Vra dan vir God vir wysheid en insig sodat jy sal weet hoe om te reageer op die seer en swaar tye in jou lewe.

Om oor na te dink

Wat maak jou krisisse aan jou?

Sien jy God se prentjie?

Hoe kan God daardeur verheerlik word?

Gebed

Here, kom ons wees nou maar eerlik. Dit is nie maklik nie. Die lewe is nie aldag maklik nie. Die krisisse in ons lewe breek en trek en maak ’n mens moeg. Sommige skeur ’n mens uitmekaar. En ek sien nie aldag U prentjie nie. Ek verstaan dit nie. Ek het wysheid nodig. Baie wysheid. Wys my U prentjie en help my om in my krisisse op te tree sodat U Naam verheerlik word. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek