God se Woord in vandag se woorde

’n Lewe gebou op vertroue


Ek sien ek het ’n fout gemaak. Ek het in die vorige gedeelte die laaste stukkie van vers 17 uitgelos. Eintlik is dit die antwoord op alles. 17… Hulle moet eerder hulle lewe bou deur op God te vertrou. Hy sal sorg dat ons alles kry wat ons nodig het om van te leef. Praat mooi met die ryk mense.

Dadelik spring die teksvers van ons moenie op prinse vertrou nie in my kop. Ek vra vir Google om my te help kyk waar dit staan. Psalm 146. Wat ’n pragtige Psalm wat woord vir woord vandag vir my by die hand vat. Dit beteken vir my so baie en in ’n tyd waar die branders woes aangerol kom, kry ek rustigheid:

3Moenie op mense staatmaak nie.

Jy kan dalk dink dat mense in hoë posisies jou sal kan help. Moenie glo nie.

Mense bly maar net mense.

4’n Mens is net van stof gemaak en leef net ’n kort rukkie.

As hy doodgaan, word hy weer soos niks.

Sy planne hou nie lank nie. Daarom kan jy nie op ’n mens staatmaak om jou te help nie.

5Hoor mooi, jy sal nie ’n fout maak as jy op die God van Jakob vertrou om jou te help nie.

Hy het deur die geskiedenis gewys dat jy Hom kan vertrou.

Iemand wat die Here as sy God vertrou, is ’n baie gelukkige mens.

6Onthou, die Here het al die mag in die wêreld.

Hy het alles gemaak: die hemel, die aarde, die see, ja, alles wat leef en beweeg.

Hy sal nooit dit wat Hy gemaak het, in die steek laat nie. Hy bly altyd getrou.

7Die Here sorg dat mense wat swaarkry, reg behandel word.

Hy sorg dat mense genoeg het om van te leef. Hy haal mense uit die tronk.

8Die Here help mense met die grootste probleme.

Hy maak mense gesond, al is hulle hoe siek.

Die Here gee moed vir mense wat platgeslaan is; Hy tel hulle weer op.

Die Here het sy kinders baie lief.

9Hulle wat verstoot word en nie voorregte het soos ander nie, kan op die Here vertrou.

Hy sal vir hulle sorg.

Maar mense wat hulle nie aan die Here steur nie, is in groot moeilikheid.

God is betroubaar. Kyk maar na Sy volk. God was altyd by hulle, al het hulle soms teen Hom gekies. As ek so oor my lewe kyk, sien ek dat God nooit van my af weggegaan nie, al was Hy soms nie in my gedagtes nie. Hoe kan God dit wat Hy self gemaak het, vir die wolwe los?

God, wat al die mag het, sal jou nooit in die steek laat nie. Hy sorg vir mense wat swaar sleep. Is jou probleem te groot om uit te sorteer? God sal jou daarmee help. Voel dit of jou siekte jou oorrompel? God is daar! Lê jy platgeslaan op die vloer? God het jou só lief. Hy sal jou daar kom optel. Elke keer.

10Die Here is Koning oor alles. Hy regeer oor almal wat leef.

Hy is jou God. Hy sal jou nooit in die steek laat nie.

Vertrou op Hom! By Hom is jy veilig.

Kom prys die Here!

Amen!

Teks
1 Timoteus 6:17-21

Om oor na te dink
Waarop bou jy jou lewe?
Vir wie vertrou jy met alles?
Hoeveel vertroue kry God?

Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, laat U Naam geheilig word. U is die grootste en die  almagtigste. U skep. Ja, U het ook vir my gemaak. U sal nooit U skepsel alleen los nie. Dankie daarvoor. Op U vertrou ek.  Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek