God se Woord in vandag se woorde

’n Matie in ’n ongeluk


Ek ry eendag huis toe en voor my staan daar ’n tjorrietjie in die middel van die pad. Die tjorrietjie het net gaan staan en ek kon sien die student is moedeloos en sit met sy hande in sy hare. Toe kom daar ’n baie groot vullisverwyderingsvragmotor aan – nogal teen ’n spoed.

Ek sien dat die bestuurder glad nie die tjorrietjie in die middel van die pad gewaar nie. Die student sien hier kom ’n ding, maar hy kan niks maak nie. Wat moet hy nou ook doen? ’n Mens wil vir hom skree om uit te spring en die trok te waarsku, maar die tyd is te min, want die goed gebeur mos nie in stadige aksie nie.

Die trok is op spoed en niks gaan hom keer nie. Seker 5 meter voor die vragmotor die tjorrietjie gaan tref, skrik die vragmotorbestuurder wakker en trap rem. Daar trek net rook uit die bande, maar helaas, dit is te laat. Met een groot slag slaan die vragmotor die tjorrietjie tot op die skrootwerf. Die arme student. Daar gaan sy enigste besitting en hy kon niks doen om dit te keer nie.

In die wêreld waar ons elke dag leef, gebeur daar ook baie maal dinge wat ons nie kan keer nie. Jy weet dit kom, maar jy kan net mooi niks daaraan doen nie. Jy gryp net die stuurwiel vas en wag vir die slag.

So sou ons aanvanklik ook in ons lewensmotor gesit het en elke oomblik van die dag die stuurwiel vasgegryp het in afwagting vir die oordeelsdag wat ons motortjie enige tyd sou kon stamp tot in die skrootwerf (of is dit nou die hel?). Ons lewenskarretjie was net té swaar gelaai met al ons sondes om uit die pad van die aankomende doodstrok te kom. In die truspieëltjie het ons hom met ’n skrik raakgesien en geweet hier kom dit nou, maar helaas – daar is niks wat ons kan doen nie. Ek sien die are op my hande soos ek die stuur vasgryp…

Dan hoor ek die verskriklike slag en ek weet ek is dood.

Maar nee, hier sit ek nog in my kar en dit stink na olie en petrol en staal en teer en alles wat brand. Ek wag eers vir alles om te bedaar voordat ek dit waag om uit my kar te klim. Wat sou dan gebeur het? Wat het met die trok gebeur?

Ek staan verwonderd en oopmond kyk ek na die petalje. Kan jy dit glo? Die trok het in ’n paal vasgejaag hier neffens my kar. ’n Houtpaal wat presies agter my tjor kom staan het. ’n Houtkruis wat al die slag gevat het, sodat my tjor nie eens ’n skrapie (by al die baie ander!) bygekry het nie.

Met die slag het Iemand van die kruis afgeval, my hand geneem en my laat terugklim in my kar. Hy het agter die stuur geklim, die kar gestart en in stilte het ons verder gery.

9God het besluit dat ons nooit in der ewigheid aan sy straf onderwerp sal word nie, maar dat ons deur die Here Jesus Christus gered word. 10Daarom het Hy in ons plek gesterf. Dit maak nie saak of ons nog lewe op die dag wanneer Hy terugkom en of ons al dood is nie; ons plek daar by Christus is klaar bespreek. Ons gaan vir altyd saam met Hom leef.

Dís nou goeie nuus! Versprei dit aan almal wat jy ken.

Om oor na te dink

Wat maak die goeie nuus aan jou?

Wat maak dit aan ander?

Met wie moet jy dit nou deel?

Gebed

Jesus, Seun van God. Ons besef nie altyd wat dit U gekos het om in ons plek te sterf vir al ons sondes nie. Ek buig in dankbaarheid en in aanbidding voor U neer. Die prys is betaal. Ek kan leef – vir altyd. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek