God se Woord in vandag se woorde

’n Moeilike een


Filippense 4:10-20

Ek wou nie hieroor iets skryf nie, want ek is bang ek trap op iemand se tone. Tog druk dit my en ek kan nie stilbly nie.

Miskien moet ek net eers sê: Ek is nie teen die kerk nie. ’n Vriend bel my. Hy wil van die Kruispadboeke by die kerk uitdeel. Maar die pastoor skop daarteen. Hy sê ek is teen die kerk.

My vriend vra dat ek die pastoor kontak en in alle eerlikheid sê ek vir hom dat ek baie lief is vir die kerk. Dis waar ek my opleiding ontvang het. Ek glo dat die kerk die plek is waar mense petrol moet kry om deur die wêreld te stap. Dis hier waar ons gemeenskap van gelowiges kan ervaar. Dis hier waar ons geleer kan word en waar ons ons vrae heen kan neem. Dis hier waar ons saam kan leer, leef, lag en dien. Enige kind van God moet êrens by ’n geloofgemeenskap ingesluit wees.

Dis my gevoel oor die kerk, die liggaam van Christus.

Jesus en Paulus het nie so ’n lekker ervaring met die kerk van daardie tyd gehad nie en spreek hulle gereeld daaroor uit: 15… Ek het die goeie boodskap oor Jesus daar in die noordelike deel van Griekeland versprei. Nie ’n enkele gemeente wou my toe help nie.

Eina, dis darem ’n harde aanklag teen die gemeente.

’n Jaar gelede moes ek na ’n ander land om inligting in te win vir ’n beplande toer. Ek het mense nodig gehad om my van raad te bedien. Op elke dorp waar ek gaan, steek mense vrywillig hulle hande op. Ek kry ’n blink plan en stuur toe ook vir al die predikante en pastore ’n e-pos waarin ek vra of ek ’n afspraak kan maak. Nee, nie om enige iets anders te vra as om net ’n klankbord te wees en dalk raad te kry nie.

Nie een steek hulle hand op nie. Een predikant het darem geantwoord, maar dit duidelik gestel dat ek hom nie moet besoek nie, want hy dink nie hy sal ’n bydrae lewer nie.

Ek was so teleurgestel en het amper weens spanning die besoek afgestel.

Die besoek was egter ’n baie groot sukses en ek het die stilte van die kerke op die ou end probeer verstaan deur vir myself te sê dat hulle seker te besig is met hulle eie dinge. Hulle kry ook seker baie sulke navrae…

Die kerk van Jesus se tyd was so vasgevang in hulle eie verstaan van die Woord dat hulle Jesus se koms en opstanding heeltemal gemis het. Hulle was net so besig met hulle eie dinge dat hulle die verlossende boodskap van Paulus gemis het. As hulle maar net bereid was om te luister. As hulle nie so na binne gekeer was nie, sou die lewe hierna ook vir hulle ’n heerlike werklikheid kon wees.

Hoekom vertel ek die storie? Ons almal is deel van ’n geloofsgemeenskap. Ons moet seker maak dat ons, die mense om ons, ons geloofsgemeenskap nie so na binne groei dat ons die mense wat God na ons toe stuur, mis nie. Doen selfondersoek. Vra ander mense se opinie. Gaan sit stil by God. Kyk na jou dade.

Maak jy ’n verskil in die gemeenskap? Ek vra altyd die eenvoudige vraag: As daar vandag ’n bom op my en die res van die gemeenskap val en ons in een slag uitwis, sal die res van die gemeenskap ons mis?

Nie maklik nie, maar tog nodig om die vraag gereeld te besoek en die regte antwoorde te kry.

Om oor na te dink

Is jou deure oop?

Maak jy werklik ’n verskil?

Is ander gemaklik?

Gebed

Vader, ons weet dat dit U begeerte is om deur ons ’n verskil hier op aarde te maak. Soms is ons egter so besig met ons eie planne en programme dat ons nie beskikbaar is dat U deur ons werk nie. Vergewe ons en help ons om weg te kyk van onsself en op te kyk na U sodat ons bruikbaar kan wees vir U. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek