God se Woord in vandag se woorde

’n Nuwe kontrak vir jou wat lewe gee


(As jy duidelikheid wil kry oor hoe die heilige en allerheiligste in die tempel gewerk het, gaan lees gerus Hebreërs 9:1-10.)

Die skrywer van Hebreërs neem die lesers keer op keer terug na wat hulle baie goed ken – die verbond wat God met Moses aangegaan het. Die lesers verstaan dit baie goed, want die boodskap is van kleins af in hulle koppe ingeprent.

Dit lyk of die lesers egter nog nie so lekker in die nuwe verbond inkoop nie. Daarom word die nuwe verbond keer op keer in hierdie brief aan die Hebreërs aangekondig: 11Christus het gekom as Hoëpriester van die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense. Dit was baie goed. Hy het nie net in ’n plek ingegaan wat maar hier op aarde deur mense gemaak is nie. Hy het deur die Heiligste plek in die hemel ingegaan. Dit is ’n baie beter en volmaakter plek as die een op aarde.

Ek wonder of ons altyd verstaan hoe bitter anders en groter hierdie nuwe kontrak is wat God met die mens kom sluit het? Die mens het nogal ’n groot aandeel aan die eerste verbond gehad. Die mens moes aan streng reëls voldoen, wat nie altyd maklik was nie. Hierdie reëls en wette het die mens gehelp om sy deel van die kontrak na te kom. Ongelukkig was die mens nie goed daarin nie en het die heeltyd skeefgetrek.

Die priesters se aanstelling was deel van die kontrak. Hulle het nie net gehelp om te sorg dat al die reëls en regulasies nagekom word nie, maar het ook die verantwoordelikheid gehad om offers aan God te bring, om so vir die mense se sondes te betaal.

Die kontrak of verbond tussen God en mens het ’n swaar las op die mense se skouers gesit. Op ’n manier is hulle vryheid weggeneem en het hulle swaar onder die juk van dié verbond geleef. En eintlik het die verbond maar baie skuiwergate gehad.

Dit was tyd vir ’n nuwe verbond. In hierdie nuwe verbond het God die mens se aandeel omtrent heeltemal uitgehaal. In plaas van aardse priesters, het God vir Jesus as hoëpriester aangestel. Die werk wat Jesus doen, hoef nie weer en weer gedoen te word nie.

Net een keer het Hy ’n offer gebring. Dit was genoeg vir al die mense se sondes, want dit was Jesus se liggaam. Dit was Jesus se bloed. Dit was Jesus wat moes sterf. En dit was genoeg.

Jesus is nie hier op aarde en woel hier in ’n tempel se heiligste of allerheiligste nie. Nee, Hy is daar in die hemel, waar Hy langs God sit. Dit gee die nuwe verbintenis soveel meer waarde en plaas dit in ’n heel ander klas.

Ek weet ons het die boodskap die afgelope tyd soveel keer gehoor. Tog is dit nodig, want op ’n manier verstaan ons die grootheid van die nuwe kontrak wat God met ons kom aangaan het, soveel beter. Wanneer ons dit beter verstaan, kan ons mos nie anders as om ons lewe in lyn met die kontrak te kry en ons deel te doen nie.

Kom ons gaan leef as verlostes daar buite. Kom ons vertel vir ander hiervan deur die manier waarop ons hulle hanteer. Kom ons trek met ons manier van leef ander nader, sodat hulle ook in die nuwe kontrak inkoop.

Teks
Hebreërs 9:11-12

Om oor na te dink
Verstaan jy die nuwe kontrak?
Wat doen dit aan jou?
Hoe kan jy dit vandag daar buite gaan uitleef?

Gebed
Vader, dankie klink nou heeltemal te klein, maar dankie dat U die ou kontrak opgeskeur het en hierdie nuwe, soveel beter een op die tafel kom sit het. Ek staan eintlik oopmond en vergaap my aan U goedheid en dat U nie ophou om uit te reik na ons mense nie. Help my om vandag hierdie kontrak in my lewe uit te leef. In Jesus Naam, Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek