God se Woord in vandag se woorde

’n Paradigmaskuif


Filippense 3:1-3

Ek gebruik graag die term paradigmaskuif. Veral as ek ernstig is oor veranderinge wat aangebring moet word, hetsy deur nuwe idees of nuwe gedagtes of selfs gedrag wat moet verander.

Maar wat beteken paradigma? Stephen Covey verduidelik dit baie mooi in sy boek The 7 habits of highly effective people en sê dat ’n paradigma ’n model, ’n teorie, ’n waarneming of ’n frame of reference is. Elkeen van ons het ’n kaart in ons kop wat ons gebruik om inligting wat deur ons sintuie in ons brein inkom te interpreteer en te verwerk. Die prentjie of kaart vorm die basis van hoe ons dinge waarneem, sien, ervaar en op die ou end word ons optrede daardeur bepaal.

Die kaart of prentjie word gevorm deur ons ouers, onderwysers, kultuur, broers en susters, vriende, kerk, skool, universiteit, geloof en so meer. Elkeen van hulle het ’n invloed op ons paradigmas. Sommige van hulle is goed, maar dan is daar ook sommige wat nie so goed is nie. En om daardie dinge te verander of te skuif wat nie goed is nie, is nie so maklik nie. Jou hele lewe het jy dalk geglo dis die waarheid en ewe skielik moet jy uitvind dat dit nie die ware prentjie is nie. Dis hier waar ’n paradigmaskuif moet kom.

As ’n seun in ’n huis grootword waar sy ma deur sy pa getimmer word, word fisiese mishandeling as die norm aangeleer. Om die seun te help om hierdie negatiewe belewenis as onaanvaarbaar te beskou, beteken dat sy paradigma geskuif moet word.

Wanneer dit by God se dinge kom, het ons ook ’n hele aantal paradigmaskuiwe nodig. Die belangrikste is om te besef dat ons vlees van die begin af gerat was om nie binne die wil van God te beweeg nie. Ons moet besef dat ons in sonde gebore is en dat dit altyd iets is waarteen ons sal moet stry. Ons moet weet dat ons eerder op onsself ingestel is en nie van nature ander mense bo onsself plaas nie. Ons sal eerder breek as bou. So kan ’n mens nog hordes verkeerde paradigmas in ons lewe uitwys wat sal moet skuif.

En dis vir seker nie maklik nie. Dit wat ons die heeltyd geleef het, moet nou verander. En eintlik wil ek sommer in sak en as verval, want die berg is net te hoog en te moeilik om al die skewe paradigmas reg te trek.

Maar gelukkig spring God ons alweer voor en weet dat ons op ons eie nie die mas sal opkom nie en uit die goedheid van sy hart gee Hy vir ons hulp: 3… God self (en nie mense nie) het sy hand op ons gelê… God se Gees verander ons hart. Wanneer ons met God praat en Hom dien, weet ons dat dit sy Gees is wat ons help.

Op ons eie hoef ons nie ons skewe paradigmas te probeer skuif nie. God se Gees help ons. Hy woeker in ons hart en op ’n wonderbaarlike manier begin ons dinge anders sien. Ons beleef dinge anders en sonder dat ons dit besef, begin ons anders te leef en anders op te tree. Ewe skielik word die eie ek en dit wat ek wil hê op die agtergrond geskuif en raak ander soveel meer belangrik. Dit is die gevolg van ’n paradigmaskuif. En die Gees het daarmee gehelp.

Vir die nuwe Christene was daar ’n moewiese paradigmaskuif nodig om te besef dat besnydenis nou nie meer nodig is nie, maar slegs geloof in Jesus.

Elkeen van ons het ’n paar paradigmaskuiwe nodig. Daarmee moet ons vrede maak. Ons moet daarvoor oop wees. Ja, ons moet ons wese oopmaak vir die Gees. Ons moet met God praat en Hom dien, want dan sal die Heilige Gees op sy manier aan ons paradigmas timmer en sal ons anders word en wees en optree.

Mag dit van ons elkeen waar word…

Om oor na te dink

Hoe lyk jou paradigmas?

Kan hulle skuif?

Watter dink jy moet skuif?

Gebed

Ons Vader, dankie dat ek nie op my eie aan my paradigmas hoef te werk nie. Dankie dat die Gees my daarmee help, maar tog is ek bang. Ek is nie so mal oor verandering nie. Help my dat ek meer met U sal praat sodat die Gees meer ruimte in my lewe kan kry! Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?