God se Woord in vandag se woorde

’n Pizza en God se genade


Daar is soveel krag in ’n groet. Vroeër jare moes ons almal deur die bank soengroet. Soms was dit darem erg grillerig. Nataniël vertel mos van die tannie met die moesie wat jy moes mis, of daai tannie met die pap soen wat jy gewonder het of sy vergeet het om vanoggend haar tande in te sit. Deesdae gee ons darem net drukkies.

En mans ook! Dit was aan die begin vir my snaaks, maar hoe meer ek daaraan gewoond geraak het, het ek besef dat dit baie meer oordra as net ’n stewige handdruk. Op ’n manier kommunikeer dit omgee, warmte, respek, vriendskap en nog soveel meer.

Ek en Renata is op pad uit die aand en ons seun is baie opgewonde. Hy kan vir hom ’n wegneem-pizza via Uber bestel. Dit is altyd vir hom ’n welkome afwisseling van sy ma se kos.

Dit was nie lank nie, toe lui die klokkie. Na ’n geruime tydjie kom my seun met die pizza om die draai, maar een stuk is reeds weg. Ek maak verbaas ’n opmerking oor hoe honger hy moet wees om van die voordeur tot by die kombuis klaar een stuk te kon verorber.

Hy sê: “Nope, ek het vir die ou wat dit afgelewer het een gegee.” Verbaas vra ek, hoekom dan so? My seun vertel: “Toe die man wat die pizza aflaai vir my die pizza aangee, vat hy met sy linkerhand aan sy regterelmboog. En weet, Pappa, dit is hulle manier van respek oordra. Ek het toe my kant van die respek nagekom en ‘n stuk van my pizza met hom gedeel.”

Wow! Iets het hier gebeur wat meer is as net ’n groet. Twee mense wat mekaar van geen kant af ken nie, stap anders weg van mekaar. Stap met ’n glimlag in hul hart en ’n maag wat effe voller is. En dis hoe dit moet wees. Wanneer ons, al is dit net vir ’n vlietende oomblik, in mekaar se spasie beland, moet ons anders, beter, lekkerder, meer, daar wegstap.

Dalk snap Paulus ook iets van die groetery, want hy spreek altyd iets goed oor die lesers uit as hy ’n brief klaarmaak. Hier aan die einde van Titus, is dit niks anders nie: 15… God se goedheid bly by julle almal of soos dit in die 1983-vertaling staan: 15… Die genade sal by julle almal wees!

En het ons elkeen nie so ’n hoop seën en genade en goedheid nodig nie? En op ’n manier is dit presies wat my seun gedoen het. Die afleweraar het ‘n stuk van God se goedheid ervaar, en dit deur ’n stuk pizza in sy maag.

Êrens in my kop maak ek ’n knoop om van nou af mense anders te groet. Daar is soveel honger mense daar buite, mense wat smag na een stukkie genade, een snytjie goedheid. God se koskaste is vol daarvan en soek net ’n “takeaway-venstertjie” om dit uit te deel.

Kom ons maak ons voordeure sulke venstertjies en kom ons wees die pyp waardeur God se genade en goedheid na ander kan vloei. Kom ons groet mense en seën hulle met God se genade. Elke dag, elke keer.

Daarom skuif ek nou my venstertjie oop, op jou skerm en groet jou: Mag God se genade oor jou vloei en mag God se genade vir jou oorgenoeg wees. Mag jy vol raak omdat God orals saam met jou stap.

Teks
Tit 3:12-15

Om oor na te dink
Vir wie kan jy seën?
Vir wie moet jy seën?
Wanneer gaan jy dit doen?

Gebed
Vader, dankie vir al U genade. Dit is oorgenoeg. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek