’n Restourasieproses
Gerjo Ben en Renata se preke vir Sondae is beskikbaar op KruispadTV. Subscribe op die YouTube kanaal en maak seker jy mis nie die geestelike kos nie.
Vroeër jare was ek baie lief daarvoor om te kyk na programme waar ou tjorre weer pragtig nuut gemaak word. ’n Mens kan omtrent nie die ou kar herken as dit daar uit die garage gestoot word nie. Van ’n ou, geroeste stuk blik na ’n blink, nuwe wa.
As die ou tjor daar ingestoot word, stroop hulle omtrent alles af. Dit is eintlik net die raamwerk wat oorbly en baie keer sny hulle nog gedeeltes daarvan ook af. Dit wat van die oorspronklike kar oorgebly het, is maar bitter min. Soms het ek gewonder hoekom het hulle nou deur al die moeite gegaan en nie sommer alles van vooraf nuut gekry nie.
Dit is eintlik ’n baie goeie prentjie van wat met ons gebeur, nadat ons vir Jesus as ons verlosser aangeneem het. Ons was ook maar geroes van al die sonde. Die verkeerde dade het ons hele wese besmet. Ons parte kon nie lekker werk nie. Ons het nie lekker gelyk nie en die dinge wat ons gedoen het, was nie mooi om na te kyk nie.
Soos Paulus dit ook mooi verwoord: 3Vroeër het ons ook in dwaasheid geleef. Ons het ons glad nie aan God gesteur nie. Ons was op die verkeerde pad. Die sonde was ons baas. Ons kon eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie. Die een afstootlike sonde na die ander was ons kos.
Op ’n manier kry ons hier ’n foto van ons BC, before Christ, dae. Jip, dit is ons in die foto, maar eintlik is ons onherkenbaar, soos die ou, geroeste tjor. En was ons nie dom nie? Ons het dinge aangevang wat heeltemal van wysheid gestroop is. Eintlik is ‘n mens verbaas dat ons lewend deur die BC-dae gekom het!
Ons het die verkeerde baas gehad. Ons het iemand gehad wat wou keer dat ons by Jesus uitkom. Hy het vir ons dinge belowe. Ons lugkastele laat bou, maar daardie droom het nooit waar geword nie. Dit kon nie, want die duiwel se magte is afgesny.
Gelukkig het ons oë oopgegaan en met die genade van Bo, kon ons sien wat ons aanvang. Ons kon sien dat die pad waarop ons was, ons na die ewige vuur sou neem. God het ons daar op die verkeerde pad kom haal en na sy werkswinkel geneem.
Wat ek besef het van die programme wat die karre so restoureer, is dat hulle nie nuwe parte bo-op of binne-in die oues kon inbou nie. Die ou goed moes eers uit. Die motorwerktuigkundiges het met hamers, slypmasjiene en koevoete ingeklim en al die vrot parte uitgeruk en weggegooi.
In ons lewe moet die dwaasheid en afstootlike sondes uitgeruk word. Ons moet intensioneel daarteen veg en sorg dat dit nie meer hul woonplek in ons lewe maak nie. Soms is dit nie maklik om daarvan ontslae te raak nie. Soms is dit seer om dit in ons lewens uit te roei, maar dit is nodig. Want eers as dit uit is, kan die nuwe parte, die nuwe lewe sy intrek neem.
Een ding wat ek ook besef het, is dat dit tyd neem. Hoe meer geroes en op die kar is, hoe meer tyd en energie gaan daarin. Net so met ons lewens. God kom nie net, klap Sy vingers en alles is spiekeries, mooi nuut nie. Nee, dit neem tyd in beslag, baie tyd, soms ’n leeftyd.
Ek en jy is in die proses om nuutgemaak te word. Kom ons werk hard aan die restourasieproses en weerhou ons daarvan om sonde te doen. Kom ons maak mooi, al die pad.
Teks
Tit 3:1-2
Om oor na te dink
Watter sondes is nog in jou?
Hoe moet jy daarmee maak?
Moet jy hulp kry?
Gebed
Here, my lewe se kar is al so oud en so geroes deur verkeerde gewoontes, dit lyk nie vir my aldag of daar meer hoop vir verandering is nie. Maar U is die Meesterwerktuigkundige wat spesialiseer in hierdie taak. Maak asseblief ook my lewe nuut! Selfs al vat dit tyd. Ek wil verander. In Jesus se Naam, amen.