God se Woord in vandag se woorde

’n Ring en ’n omie met ’n metaalverklikker


(Pardon, dat ons vandag so laat by jou uitkom. Die stuurprogram het gisteraand ‘n wind gesluk!)

Om een of ander rede laat ’n vrou ’n man verstaan dat ’n trouring ’n belegging is. Ek verskil hiermee, maar sê dit nie te hard nie, want dan weet ek ek bly uit die moeilikheid.

Toe ek en Renata begin dink aan trou moes ons ook ’n goeie diamant in die hande kry. Met ’n kontak se kontak en bitter min geld het ons ’n kosbare klippie in die hande gekry en laat set deur ’n juwelier op ons dorp. Ek moet erken dat Renata die ring deur al die jare baie mooi oppas. Sy weet die heeltyd waar dit is en los dit nêrens nie.

Dis seker hoekom sy so ontsteld was die dag toe ek gaan swem en met die eerste brander my tweede trouring verloor. Maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

Dieselfde het met haar gebeur. Die kinders was nog klein toe sy een dag in die branders met hulle speel. Met die spelery in die koue water, val haar ring toe van haar vinger af tot onder op die sand … Sy het dadelik afgebuk in die branders, maar nou ja, die ring was weg. Sy het vir ure in die water en op die strand gesoek, tot donker.

Die volgende dag met laagwater is sy daar met ’n hark in die hand en hark honderde vierkante meters. Die ring sal sy kry. Al slaan sy haar naam met ’n plank terwyl die een mens na die ander met vraagtekens op hulle gesigte na haar staar.

’n Oom kom later verby en vra wat die moeilikheid is. Hy sê hy sal help, want hy het een van daai dinge wat raas as dit metale optel. Wraggies! Twee dae later met sakke vol doppies en goeters kom die Oom by ons huis aan met Renata se ring! Dis ’n wonderwerk!

Soos Renata is oor haar ring, moet ons almal wees oor die wonderlike evangelie van God. Ons moet dit oppas met alles in ons. Ons moet dit beskerm en in ons hart dra. Ons moet dit deel maak van elke dag. 14Kyk mooi na al hierdie pragtige dinge wat God vir jou gegee het. Die Heilige Gees wat in elkeen van ons is, sal jou help om dit goed op te pas.

Dis die 1933-vertaling wat my aan Renata se storie met die ring laat dink het:  14Bewaar jou goeie pand deur die Heilige Gees wat in ons woon.

Met dieselfde passie waarmee Renata haar ring oppas, moet ons die evangelie van God, die wonderlike verlossende boodskap bewaar. En wanneer ons dit dalk êrens langs die pad verlê of eers ’n verkeerde afdraai neem, moet ons met alles in ons, sonder om ’n bossie onaangeraak te laat, weer daarna soek.

Ons weet die lewe is nie maklik nie. En om dit aan te pak sonder God en Sy verlossende boodskap is ’n dom besluit. Die lewe sal ’n mens verwoes.

Gelukkig weet God dat ons gaan sukkel en daarom gee Hy vir ons ’n hulpmiddel. Amper soos die oom met die metaalverklikker. Die Heilige Gees sal ook ’n wonderwerk uit die mou ruk om ons te help as ons God se boodskap langs die pad verloor. Die Heilige Gees sal enige iets doen om ons weer op die pad te kry sodat God se boodskap weer die middelpunt van ons lewe raak.

Kom ons maak moeite met God se Woord. Kom ons gaan soek dit as ons effe van die pad afdwaal. Kom ons neem die Heilige Gees se hand en maak planne om God en Sy verlossende boodskap weer in die middel van ons lewens te kry.

Kom ons vertel die wêreld van Jesus, want dalk is ons die enigste kans wat ander het om by Hom uit te kom.

Teks
2 Tim 1:13-18

Om oor na te dink
Is God in die middel van jou lewe?
Waar is die Heilige Gees?
Wat moet jy anders doen?

Gebed
Here, dankie vir U Heilige Gees wat my gedurig herinner aan die kosbare waarhede in U woord. Ek wil dit graag met ander deel, want dit is ’n kosbare skat wat aan elke mens se lewe waarde kan toevoeg. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek