God se Woord in vandag se woorde

’n Simpel stem met simpel gedagtes


Gretha Wiid skryf op ’n keer:

’n Dogter wou op ’n dag iets doen wat glad nie haar ma se goedkeuring weggedra het nie – nie soseer omdat dit ’n sonde was nie, maar eerder omdat dit nie volgens haar norme en waardes reg was nie. In haar hardkoppigheid het die dogter bly stry oor haar eie voornemens en haar ma se teenkanting. Een aand sit hulle voor die kaggelvuur waarvan die meeste kooltjies reeds uitgebrand het.

“Gee vir my asseblief een van die kooltjies aan. Die vuur is mos lankal dood en sal jou nie brand nie,” sê die ma.

Verontwaardig antwoord die dogter: “Dit sal my miskien nie brand nie, maar ek gaan my hande bemors met die roet!”

“Presies,” sê die ma, “dit wat jy wil doen, gaan jou miskien nie brand nie, maar jou menswees en karakter verseker besmeer.”

Hier is ’n direkte waarskuwing vir ons almal: 19Moenie iets doen waaroor jy sleg sal voel nie en vertrou Jesus Christus. Party mense wou niks weet van hierdie dinge nie en verkeerde dinge het hulle later nie meer gepla nie. Daarom is daar ook niks van hulle Christenskap oor nie en hulle vertrou ook nie meer op Jesus nie.

Eddie sien dit baie eenvoudig, selfs ’n kind kan dit verstaan:

Radio en TV-stasies gebruik klank- en video golwe om die boodskap oor te dra.

’n Engel werk deur ’n mens se breingolwe. Die satan is ook ’n engel, met dieselfde vermoëns. Hy is egter ’n stasie wat jou met simpel gedagtes voer.

Paulus vertel van ouens wat stadig maar seker van die regte pad weggelok is. Hulle het goedjies gedoen wat nie reg was nie en het effe sleg gevoel daaroor. Hulle het die stemmetjie wat sê dat hulle dit nie moet doen nie, gehoor, maar hulle nie daaraan gesteur nie.

Jy sien, hoe meer ’n mens die goed doen, hoe minder hoor jy die stemmetjie en later steur jy jou net nie meer daaraan nie. Die uiteinde? Daar is later nie meer plek vir Jesus in jou lewe nie.

Ek sê jou, as jy so ’n bietjie gaan stilsit en terugkyk oor jou lewe, sal jy plekkies sien waar jy dalk net ietsie klein verkeerd gedoen het. Ja, die stemmetjie het gepla, maar jy het eers aangekap. Later het dit nie meer gepla nie en het jy, sonder om te dink, die verkeerde pad gekies. Die uiteinde is dat jy God-loos word en dit is beslis ’n nare plek om te wees.

Kom ons maak ’n punt daarvan om seker te maak dat ons fyn luister na die stemmetjie hier binne ons. Kom ons stel wagte aan om nie te luister na die simpel stem van die duiwel wat simpel gedagtes in ons kop probeer indruk nie. Kom ons kies in alles Jesus se waarheid.

Teks

1 Timoteus 1:18-20

Dink bietjie hieroor

Watter sonde het by jou kom nes skop?
Waarteen word jy gewaarsku?
Waar moet jy begin?

Gebed

Here, help my om nie U stem binne my te ignoreer nie. U Heilige Gees praat met my en ek wil daarna luister, want dit is net U alleen wat my op die regte pad hou. Ek bely elke keer wat ek gekies het om my doof te hou vir U stem. Dankie dat U bereid is om my nog ’n kans te gee. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek