God se Woord in vandag se woorde

’n Vennoot en ’n Vader wat saam met jou werk


(Soos jy dalk agtergekom het, sukkel ons weer die afgelope tyd met ons e-pos stuurprogram. Ons vra om verskoning as jy dalk meer as een e-pos op ’n dag ontvang op ongereelde tye. Ons tegniese span werk hard om die fout uit te snuffel.)

Ek was baie bevoorreg om vir 12 jaar op twee wonderlike wynplase in die Boland ’n plaasbestuurder te wees. Die twee plase het ek geboer asof dit myne was. Vir my was inval- en uitvaltyd nie ’n syfer op die horlosie nie. Nee, wanneer die werk klaar is, het ons uitgeval. As ons dringend nog ’n swamdoder moes spuit, moes ons vroeg roer, lank voor die ander.

Eintlik het ek en die baas van die plaas soos twee vennote gewerk. Hy het gedoen waarin hy goed is en ek kon die werk doen wat weer vir my maklik was om te doen. Sjoe, ek het dit so baie op die plase geniet!

Toe ’n vriend vir my later ’n gedeelte van sy besigheid aanbied, het ek dit met albei hande aangegryp. Daar het ek baie geleer van die besigheidswêreld. Kontantvloei het ’n emosionele woord geword (ek vermoed net ouens wat al hiermee geworstel het, sal verstaan waarvan ek praat). My vriend was soos ’n pa vir my en het my baie van die besigheidswêreld geleer.

Gedurende hierdie 20 jaar van my lewe het ek geleer dat jy nie op jou eie dinge kan staanmaak nie. Op jou eie is jy te swak. Jy moet jou eerder omring met vennote en mentors en ouens wat jou kan help om dit wat jy aanpak suksesvol af te handel.

In die geestelike wêreld werk dit net so. Op ons eie kan ons nie ons roeping uitleef nie. Ons sal nooit ’n projek kan aanpak en suksesvol aflê as dit nie vir die werk van die Heilige Gees is nie. Die Heilige Gees is as geskenk vir ons gegee om ons by te staan om die lewe reg te leef. Maar meer nog, om ons te help om ons roeping in die wêreld uit te leef.

Die Heilige Gees is ons vennoot en helper. Jy sien, Hy doen waarin Hy goed is en los dit waarin ons goed is vir ons. Dalk hou jy daarvan om te praat en stories te vertel. Die Heilige Gees sal daai gedeelte vir jou los om te doen. Dalk is dit om goed te doen en jou geloof in dade oor te vertel. Die Heilige Gees sal daai gedeelte vir jou los. Hy sal vir die res sorg en sien dat die saadjies wat jy plant, ontkiem en groei.

Dit is juis hierdie voortsetting van ons handewerk wat uit ons hande is. Dit is sulke wonderlike nuus. God, ons Vader en vennoot, neem die verantwoordelikheid vir die nadiens. En watter beter persoon is daar nie om die werk te doen nie! 12… Ek twyfel nie een oomblik daaraan dat God self na alles sal kyk wat Hy vir my gegee het om te doen nie. Hy sal daarvoor sorg tot Christus Jesus weer kom.

Die 1983-vertaling vertel dit so: 12… ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.

’n Klompie jare gelede was daar ’n advertensie op die televisie van Joshua Doore met ’n deuntjie: You’ve got an uncle in the furniture business, Joshua Doore. Net so het ons ’n Vader in die geestelike besigheid. Hy sal toesien dat die werk wat ons hier op aarde doen nie tot niet gaan nie. Hy sal sorg dat ons werk vrug dra. Soms dadelik en soms eers nadat ons van die aarde af padgegee het.

Is dit nie vir jou ’n groot aansporing om jou roeping na te jaag nie? Jy het ’n vennoot en ’n Vader wat die bietjie energie wat jy insit soveel maal sal vermenigvuldig. Hulle sal hulle kant bring! Doen jy net jou deel!

Teks
2 Timoteus 1:8-12

Om oor na te dink
Hoe leef jy jou roeping uit?
Is daar nog iets wat jy kan doen?
Vertrou jy die werk aan God en die Heilige Gees toe?

Gebed
Here, ek is geroep om in U koninkryk te werk, ongeag die beroep waarin ek staan of die rol wat ek in die gemeenskap speel. Dankie dat U my toerus om die werk te doen wat U vir my uitgesit het om te doen. Dankie dat U Heilige Gees my lei en wys  waar U my wil gebruik. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek