God se Woord in vandag se woorde

Nie enetjie hier en enetjie daar nie


Dit brand in die berge om ons. Die brand het eintlik in Franschhoek begin, maar die wind het dit oor die berge gedruk. Binne vyf ure hardloop die vuur in Jonkershoek af tot teen die dorp. Uiteindelik kry hulle die vernietigende vuur gestuit.

Baie mense het gehelp om die vuur onder beheer te bring. Ongelukkig is mense se eiendom beskadig. So ’n vuur saai darem ’n klomp verwoesting!

Tog staan ek verwonderd oor hoe mense kan saamstaan. Op ons woonbuurt se WhatsApp-groepie word al die behoeftes aangekondig. Eers was dit suikerkoeldrank en energiestafies vir die mense wat die brand onder beheer bring.

Dan kom die versoeke deur vir ou meubels, beddens, linne en komberse. Kos, enige iets wat mense kan help om weer hul afgebrande huise op te bou. Sonder aarseling, begin mense hand opsteek en sê hulle het die of daai. Kan dit help? Waar kan hulle aflewer?

Êrens word ’n bankrekeningnommer geplaas en die geld kom sommer ingerol.

Dit is ongelooflik om te sien hoe vinnig mense betrokke raak om ander te help en watter groot verskil dit in mense se lewens maak as ander hande vat. Een vir een kon hulle nie werklik die nood verlig nie, maar ’n klompie saam maak ’n moewiese verskil.

Dit laat my nou dink aan die klein draadjie wat op sy eie, sommerso, met ’n pluk gebreek kan word. Maar as daar ’n paar van die draadjies om mekaar gedraai word, kry jy dit nie sommer gebreek nie.

Net jammer dat daar baie mense is wat nie die eenvoudige som verstaan nie. Sommige mense is so op hulleself gerig, dat hulle nie ander se nood om hulle raaksien nie. En mense mis uit op ’n groeigeleentheid. ’n Lekkervoel-geleentheid. Mense is armer as hulle nie gee nie.

Daarom die opdrag dat ons nie net goed moet doen om ander te help nie, maar ook ander aan te moedig om goed te doen. Ons moet hulle help om ’n sensitiwiteit aan te kweek om ander se nood raak te sien en dan moet ons hulle help om die ander in nood te help, deur hulle nood te dra en te verlig.

Die Boodskap-vertaling sê dit so mooi: 24Laat ons gedurig maniere soek om mekaar opgewonde te maak om goeie dinge vir mekaar te doen en lojaal teenoor mekaar te wees.

Dit kom vir baie natuurlik. Vir ander is dit nie so maklik om liefde te saai en goed te wees vir ander nie. Daarom moet ons goeddoen aan ander, maar meer nog. Ons moet vir hulle so ’n goeie ervaring gee, dat hulle aangesteek word om ook goed te gaan doen.

Gaan soek plekkies. Gaan raak stil en laat die Heilige Gees jou lei na mense wat ’n bietjie motivering nodig het om ook na ander uit te reik. Mag die wêreld anders wees omdat ons wat so baie ontvang, gaan uitdeel aan ander en ander so help om self ’n verskil te gaan maak.

So maak ons ’n baie groter verskil as net enetjie hier en enetjie daar.

Teks
Hebreërs 10:19-25

Om oor na te dink
Doen jy goed aan ander?
Doen jy goed aan ander sodat hulle goeddoen aan ander?
Wie moet jy volgende bedien?

Gebed
Vader, ek het nie altyd hierdie opdrag so verstaan nie. Ek het gedink ek moet net goeddoen, maar nou besef ek dat ek so goed moet doen dat ander gemotiveer word om ook U genade aan ander te gaan uitdeel. Help my om hierdie opdrag te gaan uitleef. So sal die impak net groter wees in U wêreld. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek