God se Woord in vandag se woorde

Nie kalm water nie


Ons neem dikwels nie standpunt in vir dit waarin ons glo nie. Soms sê mense negatiewe dinge oor God of mense kyk neer op wat Jesus gedoen het en sê dis net ’n bogstorie en dan bly ons stil daaroor.

In ons kop het ons die redetjies mooi agtermekaar van ek wil nie aanstoot gee nie of ek wil nie nou ’n lang redenasie aanvuur nie of ek sal later met die persoon gaan praat – wat nooit gebeur nie.

As ons dan so passievol oor ons geloof en Jesus is, hoekom maak ons dan nie ons monde oop as ander Hom afkraak nie?

Ek vermoed dit is omdat ons die maklike lewe wil hê of liewer gemaklik wil bly en dit net altyd lekker wil hê. Dis seker menslik om in kalm water te wil woon, maar ongelukkig werk dit nie so wanneer jy ’n Jesus-navolger is nie.

Jesus self was omtrent nooit in kalm water nie. Orals waar Hy gegaan het, het die regering en selfs die kerk van die dag Hom gejaag. Mense het gedink die dinge wat Hy sê, is verregaande. Dit was nie moontlik om so te leef nie. Die vryheid wat Hy gebring het, het net nie ingepas in hulle manier van hulle geloof uitleef nie.

Daar was gedurig vonke en hulle het Jesus aangeval, omdat Hy hulle kalm water kom deurmekaarkrap het.

As Jesus soveel teenstand gekry het, hoeveel te meer moet ons nie ook gereed wees dat dit met ons gebeur nie? 13Laat ons dan na Jesus toe gaan daar buite die stad, al moet ons net so bespot en verag word soos Hy. 14Ons eintlike plek waar ons gaan bly, is mos nie op aarde nie, maar ons sien uit na die blyplek wat aan die kom is.

Ons moet regmaak vir waters wat nie altyd kalm gaan wees nie. Daar is mense wat ernstig dink dat ons die pot missit. Daar is selfs mense wat agter hulle hande praat as ons verbystap. Hiervoor moet ons ons staal. Al wat ons eintlik teenoor hulle kan doen, is om met ons dade liefde te getuig.

Ons moet hulle wys hoe Jesus lyk, al bespot hulle ons. Dalk maak dit hulle oë oop. Wanneer mense ander probeer seermaak en hulle ontvang liefde, het hulle nie wapens daarvoor nie en is hulle kwesbaar. Dis juis in hierdie kwesbaarheid waar ons tot hulle kan deurdring.

Tog is dit nie altyd so maklik wanneer jy in hierdie wêreld lewe nie. Dan moet ons besef dat hierdie wêreld tydelik en verganklik is. Eendag gaan dit net ophou om te bestaan.

Mense wat nie aan Jesus vashou en aan Hom glo nie, gaan ’n groot verrassing kry. Êrens gaan die aarde se vervaldatum bereik word en dan is dit vir ewig verby. Dan vat ek maar die pak en word bespot en uitgejou, want die plek waarheen ek gaan, is volmaak. Daar is geen krisisse nie. Daar is geen siektes nie. Dit gaan die heeltyd net speeltyd wees.

Kom ons leef ’n lewe waar ons nie bang is om op te staan vir dit waarin ons glo nie. Kom ons wys wat ware liefde is, soos Jesus, en kap nie ons tentpenne te diep in nie, want eendag sal hulle weer moet uit as ons vertrek na die permanente volmaakte wêreld.

Teks
Hebreërs 13:9-16

Om oor na te dink
Hoe lyk jou lewe?
Neem jy standpunt in vir dit waarin jy glo?
Wys jou dade dit altyd?

Gebed
Here, dis nie altyd vir my maklik om op te staan vir dit waarin ek glo nie. Help my om sterk te staan en te lewe wat ek glo, al maak dit soms seer. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek