Nie meer lippetaal
Ek kry die mense wat voor Jesus se koms na die aarde gelewe het, so jammer. Hulle het eintlik nie ’n kans gehad om die hemel in te kom nie. As hulle sonde gedoen het, moes hulle die pak daarvoor gevat het. Ek vermoed ek sou saam met hulle die hemel gemis het.
Maar dankie tog vir God se bomenslike, eintlik onverstaanbare reddingspoging. Hoe ’n God Sy eie Seun kon opoffer vir ’n klomp sondaars, gaan my verstand heeltemal te bowe.
’n Mens doen nie sommer net iets nie. Daar is altyd iets wat ’n mens mobiliseer om te doen. Net so doen God nie ‘n ding sonder dat iets Hom mobiliseer nie. God se liefde vir die mens, ja die oorlopende liefde, mobiliseer Hom om ’n groot reddende plan vir die sondaar mens uit te rol. Sy liefde dring Hom. Sy liefde dwing Hom, dat Hy op die ou end nie anders kan as om Jesus aan ’n kruis te laat sterf nie.
4Maar toe gebeur daar ’n wonderwerk: God ons Verlosser het vir ons kom wys hoe lief Hy ons het. Sy goedheid was nie lippetaal nie. Nee, 5Hy het ons verlos. Hy het dit nie gedoen omdat ons so goed geleef het sodat Hy ons moes verlos nie. Nee, Hy het dit gedoen omdat Hy ons baie jammer gekry het.
Dit is die beste nuus vir enige mens wat besef hoe sondig hy is! ’n God wat nie maar net stories opmaak nie. ’n God wat nie maar net praat en praat en niks doen nie. Nee, ons God sit skouer aan die wiel. Hy droom. Hy trek planne op. Hy stel ’n projekplan op. Maar meer nog, Hy gaan en doen dit.
Dis wat liefde doen.
Sy goedheid is nie net iets wat ons gehoor het nie, maar ons het dit gesien en aan ons eie bas gevoel. En sien jy dat ons doen en late glad nie deel is van die prentjie nie? Eintlik diskwalifiseer ons doen en late ons om deel te wees van die reddingspoging. Ons dade het in die verkeerde rigting geloop, weg van God af.
Maar gelukkig het God ons jammer gekry. Hy kon dit nie oor Sy hart kry dat ons soos vlieë die een na die ander doodgaan in die verderf nie. Hy het ons uit Sy hart jammer gekry en eerder Jesus aan die kruis laat sterf.
God kon Homself nie keer nie en sy liefde vir ons mense borrel net oor en oor. As ons dit besef, moet dit mos ’n effek in ons lewe hê. As ons verstaan wat God se hart en plan en Jesus se dood aan die kruis vir ons elkeen beteken, kan ons mos ook nie anders as om oorborrellende liefde daar buite te gaan uitleef nie.
Ons liefde moenie net hier by ons monde uitkom nie. Nee, ons moet soos God skouer aan die wiel sit. Ons moet droom en planne optrek. Ons moet ’n projekplan saamstel. Ons moet begin doen. Ons moet ons hande vuilmaak en begin werk in God se wêreld.
Orals waar ons gaan, moet ons moeite doen, energie bymekaarmaak en liefde gaan saai.
Mag die wêreld anders lyk, omdat ons God se liefde daadwerklik uitleef.
Teks
Tit 3:3-7
Om oor na te dink
Beweeg God se liefde jou?
Waarheen?
Na wie toe?
Gebed
Hemelse Vader, hoe groot is U liefde vir ons mense nie? U is die grootste, almagtigste en liefdevolste God wat daar is. U red my lewe. Hoe kan ek dan nie anders as om ook U liefde in die wêreld te gaan uitleef nie? Laat ek so maak! In Jesus se Naam, amen.