God se Woord in vandag se woorde

Nie op eie stoom nie


Daar was ’n tyd in my lewe toe my moed in my skoene gesit het. Dit het nie goed met my gegaan nie. Ek was só moeg om te veg om staande te bly. Ek haal ’n stukkie uit my joernaal aan wat ek ’n paar jaar terug geskryf het:

Ek het gisteroggend so mooi vir die Here gevra om my deur die dag te help, maar ek het nie veel van Sy hulp gesien nie. Inteendeel, ek het gister nog die meeste spanning gehad as wat ek ooit kon hê. Dan is die eerste vraag hoekom, hoekom Here? Maar ek vra nie die vraag om U die skuld te gee nie. Ek vra eerder waar maak ék die foute? Waar laat ék toe dat U nie in my werk nie? Ek het nie antwoorde nie.

Dit voel vir my of ek in ’n doodloopstraat is. Ek bid en smeek en staan vroeg op om lank saam met U te verkeer. En tog kan ek vra: So what? Sjoe, dis nie mooi nie, maar het ek regtig gegroei? Is ek nader aan U? Is ek die lig in die wêreld soos wat ons gesê het ons gaan wees?

Here, mag ek U vra om my te help met antwoorde? Ek smeek dat U vir my wysheid sal gee om werklik lig te wees in die wêreld, om werklik ’n verskil te maak in ander mense se lewens.

Ek onthou nog hoe mismoedig ek daardie tyd was. Dit was ’n gestoei om die lewe te leef. Niks wou werk nie: Nie my wandel met God nie, nie lig in die wêreld wees nie, niks nie. Ek weet God is solid. Ek weet dat Hy nie verander van die een dag na die ander nie. Hy bly dieselfde.

Ek het besef dat ek die een is wat die swak skakel is. Ek doen iets of ek doen nie iets nie, wat veroorsaak dat dit ’n voortdurende gestoei is om staande te bly. Die gevolg is dat baie van die vrede en vreugde uit ons lewens gesteel word.

Ek het my antwoord gekry: 11God is die Een wat oor Goddelike mag beskik. Mag sy krag júlle krag word sodat julle glad nie ongeduldig word en begin moed verloor nie. Nee, staan vas en hou moed!

Dit was my fout. Ek, ons almal, probeer om op eie stoom die lewe te leef. Ons probeer die lewe leef soos ons dink dit gedoen moet word. Daarom span ons ons eie kragte in om ons verhouding met God staan te maak.

Ons probeer met ons eie batterye lig vir die wêreld te wees. Ons probeer op ons eie stoom die uitdagings van die lewe takel. Uit ondervinding weet ons dan ook dat dit te min is, daarom die gestoei elke dag. Ons krag is nie voldoende om die trein van ons lewe met al sy trokke te trek nie. Dit werk nie. Dit is dan noodwendig dat ons moed sal verloor en nie weet waarnatoe nie.

Ons moet toelaat dat God se krag in ons lewens begin werk. Wanneer God se krag in ons lewens werk, sal daar ’n pragtige lewende verhouding met God ontstaan. Ons sal, sonder om te sukkel, lig wees in die duisternis.  Maak al die geraas van die eie ek in jou lewe stil en wag op die geruis van God sodat Hy met al Sy mag jou lewe kan binnevaar en jy anders kan wees.

My vriend, my vriendin, maak ruimte vir God se krag. Staan so effe opsy en laat toe dat God in jou woel. Moenie moed verloor nie. Gee dit nog ’n kans en staan vas. Glo dat God jou uitgekies het. Weet dat jy spesiaal in Sy oë is en dat Hy jou só graag deur die dag wil help. Bring die dinge waarmee jy nou moeg gespook is weer na Hom. Smeek Hom vir krag en Hy sal dit vir jou gee. Glo dit net!

Skrifgedeelte

Kolossense 1:9-11

Om oor na te dink

Hoe kragtig is jou dade?

Hoeveel is jou eie krag?

Hoeveel is God se krag?

Gebed

Here, ek praat uit ondervinding as ek sê dat my eie krag my nie ver bring nie. Help my om betyds na U toe te draai vir hulp en leiding. U is werklik ’n onuitputbare bron van krag. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek