Nie op moedverloor se vlakte nie!
Christoff vertel sy storie. Vir my is dit ’n groot les oor vertroue. Dis vir my ’n storie van God se krag wat op ’n manier deur mense ten toon gestel word. Ek moet erken dat dit nie altyd so by my werk nie.
Hoor hierdie wonderlike storie van hom:
Op ’n Donderdag in Desember, 2 weke voor kersfees, 2 jaar gelede is ons almal by die werk ingeroep en koevertjies is uitgedeel. Die boodskap was eenvoudig: “Ons as bestuur van die maatskappy beveel aan dat elkeen wat moontlik ander werk kan bekom, so moet doen, aangesien ons die totale hoeveelheid personeel met 80% gaan verminder vanaf middel Januarie.
Paniek! Spring op die foon en praat met al wat ’n plasingsagent is. Die nuus van alle kante is dieselfde. Moet ons nie kontak nie, die meeste maatskappye is reeds gesluit vir die vakansie. Ons sal sien wat ons vroeg volgende jaar vir jou kan doen, maar soos jy weet, is die ekonomie afgeplat bla…, bla…, bla…
Ek gaan sit by my werkstasie, platgeslaan en verslae. Die bestellingsboek was dan laas week nog vol? Wat het nou gebeur? Hoekom ek?
Net voordat ek my oorgee aan doodspartel, kom ’n ongekende kalmte oor my. Tyd vir bestekopname. Dinge het te lekker begin raak. Té veel geld vir té min werk met té veel luukshede wat as vanselfsprekend aanvaar word. Ek sluk swaar, maar sluit my oë daar waar ek sit en ek raak stil. Ek word doof vir die geskarrel en paniekkerige telefoonoproepe rondom my. Ek besef hoeveel ek het teenoor die ou tante by die verkeerslig waar ek elke oggend verbyry op pad kantoor toe. Ek raak nog stiller.
Daar begin ’n deuntjie deur my kop maal. Die ou halleluja-lied, “Doen slegs U wil Heer, U wil met my, U pottebakker met my die klei…”
Dan tree ek in gesprek met God. Ek dank Hom vir dit wat ek tot nou as my reg beskou het, maar wat suiwer voorreg was. Ek vra Hom om met my lewe te maak wat Hy wil en om my werk te gee as dit sy wil is en berusting by sy besluit.
Ek skakel een werwingsagent wat in ons tipe bedryf werk. Ek gee my inligting aan die dametjie deur sonder om regtig ’n antwoord te verwag in die huidige ekonomiese klimaat en veral in hierdie tyd van die jaar.
Binne ’n halfuur skakel sy my en bied my ’n pos aan, baie nader aan my huis, maar teen ’n drasties verlaagde salaris. Ek vra of ek haar kan terugskakel, omdat ek eers daaroor wil bid. Sy antwoord sonder aarsel dat sy die helfte van haar werwingsfooi maandeliks sal ingooi.
Ek aanvaar die aanbod met die gedagte dat ek self in die nuwe jaar iets beters gaan soek en begin die Vrydag by die nuwe maatskappy werk.
Twee jaar later werk ek nog op dieselfde plek, met die oortuiging dat dit hier is waar God my wil gebruik.
Vertroue op God en ’n oop hand vir ander verrig wonderwerke.
God is goed en groot. Vertrou net op Hom en hou op om op jou eie voete te wil staan. Aanvaar ook wat Hy vir jou wil gee. Dalk is jy te belangrik in jou eie oë.
11God is die Een wat oor Goddelike mag beskik. Mag sy krag júlle krag word sodat julle glad nie ongeduldig word en begin moed verloor nie. Nee, staan vas en hou moed!
Christoff verstaan iets van God se krag en ek sien dit deur sy manier van leef. Hy verstaan iets van geloof en nie moed verloor nie. Hy weet van vasstaan en vertrou dat sy God vir Hom sal voorsien.
Mag dit ook waar wees in my en jou lewe.
Teks
Om oor na te dink
Vertrou jy?
Glo jy?
Hoe sterk werk God se krag deur jou?
Gebed
Here, soms besef ek dat ons te moeilik los en net op U vertrou. As ek terugkyk na my lewe het U nog elke keer vir my voorsien. Hoekom dan nie nou weer nie? U sal my mos nie nou drop nie. Ek vertrou op U en sal nie moed verloor nie. Amen.