God se Woord in vandag se woorde

Nog krag vir nog ’n dag


Filippense 4:10-20

Ek wil weer die kitaar slaan oor die vers. Die vers is net te kragtig om net een of twee keer iets daaroor te skryf. As ons die vers regtig verstaan en ten volle kan deelmaak van ons hele wese, gaan die lewe soveel makliker wees.

13Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is.

As jy terugloer op jou lewe, hoeveel keer het jy nie al vir jouself en ander gesê dat jy nie kans sien vir dit wat nou op jou bord is nie? Hoeveel keer het jy nie al op jou bed neergeval en nie ’n stukkie krag oorgehad het om ’n arm of ’n been te lig nie? Kyk maar, ons almal was al een of ander tyd daar gewees.

As jy ’n geskenk langs ’n kind neersit, gaan hy nie ’n oomblik wag nie. Hy gaan dadelik opstaan en die geskenk oopmaak. As jy vir ’n skrynwerker wat nog met ’n handboor werk, ’n elektriese boor gee, gaan hy sy handboor neersit en die elketriese boor dadelik gebruik, want dis soveel makliker, soveer vinniger. As jy vir ’n kontrakteur wat ’n lang sloot met ’n paar manne moet grawe ’n slootgrawer gee, gaan hy binne sekondes die manne uit die sloot help en die slootgrawer daar indruk.

Dan verstaan ek nie dat ons, wat soveel krag nodig het om deur die dag te kom, nie hierdie groot geskenk van God aan ons oopmaak en deelmaak van ons lewe nie. Ek verstaan nie hoekom ons nie by God gaan inprop om so die krag te ontvang om deur ons dag te kom nie.

Dalk is dit omdat ons nie weet waar om in te prop nie.

Die antwoord lê reg voor ons: die krag kom uit God se Woord. Ons moet ons neuse in God se Woord kry. Dis hier waar ons meer leer van God. Dis hier waar ons wysheid ontvang en antwoorde op ons vrae. Dis hier waar ons anders word, anders dink, anders praat en later anders operate.

Soos voorheen gesê, daar waar ons met God kommunikeer, waar ons in sy teenwoordigheid kom, raak ons anders. Hier by God kry ons die kennis om die wêreld aan te vat. Hier leer ons van strategie en van maniere om reg te lewe. Dis net hier waar ons ’n stuk van die eie ek neerlê en ander se nood raaksien. En wanneer ons ander help in hul seer en tekortkominge, stap ons weg met ekstra energie.

Hoor jy wat hier gebeur? Ons kry krag wanneer ons krag gebruik om ander te help. Sjoe, dit maak eintlik nie sin nie, maar dis presies hoe dit werk. Wanneer jy ander in hul nood gehelp het, voel jy beter oor jouself, sit daar weer ’n glimlag op jou gesig en is daar ’n huppel in jou stap. Dis ekstra krag wat jy van God ontvang het.

Ek wil jou eintlik uitdaag om dit te gaan doen. Gaan sit by God, hê gemeenskap met Hom, maak sy Woord jou woorde en gaan soek ’n plekkie of twee om iets vir iemand anders te beteken. Jy sal soveel krag ontvang, dat jy vir alles wat op jou bord is kans sal sien.

Om oor na te dink

Wat is op jou bord?

Waarvoor sien jy nie kans nie?

Bestee jy genoeg tyd in God se teenwoordigheid?

Gebed

Jesus, dankie dat U ons kragbron is. Dankie dat U so sterk is dat al ons mense van U krag kan trek. Help my om meer tyd saam met U deur te bring, sodat ek meer krag van U kan ontvang.

 

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?