God se Woord in vandag se woorde

Nog meer inspanning


Filippense 3:12-16

12Ek wil nie voorgee dat ek geestelik al alles het of al geestelik by die wenpaal verby is nie. Ek span nou eers alles in my in om daardie doel te bereik, juis omdat Jesus sy hand na my uitgesteek en my vasgegryp het.

Hoeveel van jou perde span jy in vir God? Die wekker gaan vanoggend 5:00 af. My seun se swemoefening begin oor 20 minute. Hy staan op, eet iets en daar gaan hy. Sonder om te lê en dink of hy moet opstaan of nie. Hy doen dit net, want hy weet dis nodig om sy doel te bereik.

Ek staan gewoonlik ook daardie tyd op, maar dit sukkel soms, al weet ek ek het ’n afspraak met die Een in wie se diens ek staan. Soms lê en dink ek oor die redes waarom ek party oggende sukkel om op te staan en nie my afspraak na te kom nie. Ai, hoekom tog so?

Soms span ons nie al ons perde in vir God nie. Dalk span ons net dié in wat ons dink nodig is om God gelukkig te hou. Dit klink nie lekker nie en ons sal seker dadelik daarteen protesteer, maar gaan kyk maar mooi na jou lewe. Waar en hoe maak jy vir God deel van jou lewe?

Nou hoe span ’n mens alles in vir God?

Dalk moet ons begin om bewustelik elke oomblik van die dag op God ingestel te wees en met Hom te praat. Ek kan nog onthou hoe ek my bes probeer het om met God te praat toe ek nog by die fabriek gewerk het. Ek het Hom deel gemaak van elke situasie. Sommerso in my kop het ek met Hom gepraat oor die situasie, die mense, die krisisse, die kliënte, ens. Êrens tydens die gesprekke met God begin goed meer sin maak, maar meer nog, God raak werklik deel van ons lewe! Dit is wat God wil hê.

Dit is nogal vir my skrikwekkend om te sien dat ons baie keer tot God nader net as dit nie so goed gaan nie. As een of ander krisis sy kop wil uitsteek. Maar wanneer dit goed gaan, is dit asof ons ons perde los en op eie stoom wil voortploeter.

So moet ons elke perd in ons lewe inspan om te help trek aan ons wa. Maar net ’n waarskuwing: Moenie dink daardie perd gaan vir altyd daar bly nie. Om een of ander rede gaan hy die heeltyd probeer om uit te klim.

Ons moet ons perde wat ingespan is, gereeld diens. Ons moet kyk of hulle nog met volle krag trek. Ons moet kyk dat hulle gesond is. Ons moet kyk dat hulle sterk genoeg is om die wenpaal te haal.

Span vandag alles in vir God. Toe!

Om oor na te dink

Wat is jou doel in die lewe?

Maak jy opofferinge om jou doel te bereik?

Is die wenpaal jou fokus?

Gebed

Jesus, dankie dat U nie net vir my by die wenpaal wag nie, maar dat U elke tree van die wedloop saam met my is. Dankie dat U u hand uitsteek waar ek sukkel. Ek weet ek is nie alleen op die reis nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek