God se Woord in vandag se woorde

Nog ’n lysie vir God


Ek wonder hoe jy met die vorige lysie gevorder het. Miskien is dit goed om dit gou weer te lees.

Hier kom nog ’n lysie. ’n Lysie wat na diakens en vroue se optrede verwys. Wie is gewoonlik die diakens? Die manne en vroue wat in die kerk werk – niemand anders as elkeen wat in Jesus glo nie. Ons almal moet een of ander werk in die kerk doen. Daarom geld hierdie lysie ook vir ons elkeen. Kom ons kyk na wat op die lysie van doen en nie doen staan:

  • Jy moet respek van ander verdien.
  • Mense moet op jou kan peil trek.
  • Moenie toelaat dat drank jou baas is nie.
  • Moenie oneerlike wins probeer maak nie.
  • Die waarhede van God moet jou fondasie wees.
  • Jy moet opreg wees.
  • Jou gewete moet skoon wees.
  • Jy moenie skinder nie.
  • Jy moenie uitspattig wees nie.
  • Jy moet getrou bly aan jou eggenoot.
  • Jy moet ’n goeie eggenoot vir jou man of vrou en kinders wees.

Wat probeer Paulus doen met die lysie?

Kom ons begin by wat hy nié probeer doen nie. Ek dink nie Paulus probeer om ons deur middel van die lysie in ’n hok te druk en ons vryheid te ontneem nie. Nog minder probeer hy bagasie van reëls en regulasies op ons pak wat ons orals moet rondsleep. Hy is ook nie besig om vir ons ruimte te skep om so elke nou en dan te gaan buk om die pyn van ’n rottang op ons sitvlakke te voel nie. As dit sy doel was, was Jesus se kruisdood nie die moeite werd nie.

’n Mens moet nooit die mense vir wie Paulus die brief geskryf het uit die oog verloor nie. Die mense het eintlik glad nie geweet hoe leef ’n mens as kind van God nie. Dit was ’n nuwe manier van leef wat vir hulle totaal en al onbekend was. Daarom gee Paulus vir Timoteus raad oor hoe hy en die mense van Efese moet probeer optree. Dit moet ’n leefstyl wees waarna hulle kan streef.

Daar is nie ’n rottang saam met die verpakking van die vers nie. Nee, hierdie is eerder ’n ”How to live life to the fullest”-gids. Daarom probeer dit nie jou moed na jou skoene dwing nie, maar dit probeer jou eintlik motiveer om uit te kom by die droom wat God vir jou het.

Dit is iets wat ons kan najaag, nie omdat ons bang is nie, maar omdat ons dankbaar is vir wat God vir ons gedoen het. Dan wil ek, nee, dan kan ek nie anders as om hierdie riglyne met alles wat in my is na te jaag nie.

Ek weet ook dat ek nie altyd 10 uit te 10 gaan kry nie, maar dit is ook fine, want ten minste het ek met alles in my probeer en God sien dit raak.

Ons wil dit doen, omdat ons in Jesus glo. Maak ’n punt daarvan om dit te probeer.

Teks

1 Timoteus 3:8-13

Dink bietjie hieroor

Hoe het jy gevoel toe jy die lysie lees?
Hoe voel jy nou daaroor?
Waaroor dink jy praat God met jou?

Gebed

Jesus, die riglyne van Paulus is nie net vir die diakens nie, maar ook vir elke kind van U wat deur U gekies is om ander te dien en by te staan. Ja, Here, dis elkeen van ons. Help my om uit dankbaarheid teenoor wat U vir my gedoen het aan die kruis, hierdie riglyne na te streef. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek