God se Woord in vandag se woorde

Nommer 1 in jou lewe


Filippense 3:4-11

Wat is vir jou die belangrikste in die lewe? Die meeste van ons sal seker ’n antwoord gee met God of Jesus daarin. Ja, ek wou dadelik gesê het dit is Jesus en sy genade wat Hy oor ons kom uitstort het. Ons is altyd tog so gereed met die regte antwoorde.

Kom ons wees vir ’n oomblik eerlik met onsself en tob ’n bietjie oor die vrae:

  • Watter ding is daar waarsonder jy nie kan klaarkom nie?
  • Waaraan dink jy die meeste?
  • Wat vul jou dag?
  • Met wie praat jy in jou kop?
  • Waar bring jy die meeste van jou tyd deur?
  • As jy opgewonde met jou vriende praat, waaroor praat julle?

Ek wil nie dweep en sê dat ons elke oomblik van die dag voor ons bed moet kniel nie. Ek bedoel ook nie dat ons alles wat ons elke dag doen moet opsy stoot en voltyds met ons neuse in die Bybel sit nie.

Eintlik besef ek maar net as ek die vrae self so kyk, dat God en Jesus nie veel uitmaak van my dag nie. Dan besef ek dat ek die grootste gedeelte van die dag op my eie is.  Ek skuif vir God eenkant toe om eers my eie ding te doen.  Ek moet ’n manier kry om God die heeltyd saam met my te neem.

Ek moet sê ek probeer regtig hard. Maak nie saak waar ek kom en wie my vra hoe dit gaan nie, ek gee altyd eer aan God deur te sê: “Met die genade van Bo, gaan dit…”

Want dit is so. As dit nie vir God was nie, was ons verseker nie meer hier gewees nie. As dit nie vir God was nie, het ek seker nie meer ’n huwelik gehad nie. As dit nie vir God was nie, het ek seker al in ’n brug vasgejaag. Ek is nie bang om God te eer en dit te deel met ander nie.

Tog pla Paulus my vandag wanneer hy sê: 8… Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword. Hy is nou vir my belangriker as alle ander dinge tesame.

Is Jesus vir jou alles? Is Jesus my alles?

Moenie te gou antwoord nie. Kyk eers watter boodskap saai jou dade na ander uit. Kyk eers na die boodskap van jou woorde en die manier waarop jy ander mense behandel. Wie staan eerste in jou kop? Jy of die ander persoon?

Is Jesus die begin en die einde van jou lewe?

Sjoe, baie vrae né.

Ek het nie antwoorde vir elkeen nie en ek staan nie met ’n tienpunt plan vir sukses vir jou verhouding met God nie. Miskien kom skud Paulus ons net wakker en kom ruk ons uit ons fool’s paradise.

Word wakker my vriend, dalk is Jesus en sy kruis nie so hoog op jou prioriteitslys nie. Neem God saam met jou. Dalk moet ons meer met Hom praat, sodat Hy meer deel kan wees van ons alledaagse lewe.

Om oor na te dink

Watter ding is daar waarsonder jy nie kan klaarkom nie?

Waaraan dink jy die meeste?

Wat vul jou dag?

Met wie praat jy in jou kop?

Waar bring jy die meeste van jou tyd deur?

As jy opgewonde met jou vriende praat, waaroor praat julle?

Gebed

Hier staan ek weer voor U skuldig, Heer. Te veel ander dinge neem U plek in. Help my Vader, om my prioriteite reg te kry en U in alles eerste te plaas. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?