Nuutste weergawe van jou gewete
Het jy al bietjie gedink oor wat ’n mens se gewete is en hoe dit nou eintlik werk?
Jou gewete is soos ’n stemmetjie binne jou wat vir jou sê waar die lyn tussen reg en verkeerd is. Dis jou morele barometer. Dis ’n rigting aanduier wat God binne elke mens gesit het om ons te help om te onderskei tussen wat Sy wil is en wat nie Sy wil is nie.
Op ’n manier is ons gewete gekoppel aan ons emosies. Wanneer ons die regte dinge doen, voel ons goed daaroor en goed oor onsself. Maar as ons oor die grense geval het, voel ons nie goed nie en kruip ons tussen die vloer en die politoer in.
God het vir ons hierdie hulp gegee om ons te help om die regte besluite by die kruispaaie van die lewe te neem. Net jammer dat ons dit regkry om ons gewete vêr in ’n kas in ons binneste weg te pak dat ons nie meer die aanbevelings hoor nie. Die gevolg is dat ons besluite neem wat nie so vars is nie en dan lê die wêreld om ons gesaai met lyke.
Ons soek vir groot moeilikheid as ons ons gewete vir onsself wegsteek. Kyk maar terug oor jou lewe. Sien jy die tye toe dit swaar gegaan het, swaar omdat jy verkeerde keuses in jou lewe gemaak het? Mense naby aan jou het gebloei. Ek sien ’n paar van daardie tye in my eie lewe. Ek sien ook dat my gewete nie in sig was nie. Ek het dit reggekry om my gewete vir myself weg te steek en so sy stemmetjie stilgemaak.
Ons is soms eenvoudig net te hardkoppig …
Paulus is vir ons ’n voorbeeld hoe om dit reg te doen: 3Soos my voorouers God gedien het, dien ek Hom ook met ’n skoon gewete omdat ek my plig gedoen het. Paulus se gewete is skoon, want hy was getrou aan die stem binne-in hom en hy het gedoen soos sy morele barometer hom gewys het. Soos sy geestelike oupas en oumas, ma’s en pa’s het hy God gedien.
Hy het met alles in hom vasgehou aan God se woorde en toegelaat dat dit sy denke vorm en sy paaie bepaal. Selfs toe die omstandighede baie slegs was, sy lewe in gevaar en hy in ’n muwwe ou vuil tronk moes sit, het hy nie toegelaat dat sy gewete in ’n kas weggesteek word nie. Inteendeel, hy het gesorg dat sy gewete die nuutste weergawe is en ’n kardinale rol vervul in sy besluitneming.
As ons onsself en die mense om ons baie seer en swaar wil spaar, moet ons by Paulus leer. Ons moet eerstens besef dat ons gewete by die sondeval seergekry het en skuins beur. Nee, eintlik klink dit vir my of die sondeval die volume knoppie van ons gewete omtrent heeltemal afgedraai het sodat ons dit nie so lekker kan hoor nie.
Die volume word weer harder gestel wanneer ons ons neuse in God se Woord kry en ons toelaat dat die Heilige Gees met ons praat. Hier help ons ons gewete om duidelik te onderskei tussen reg en verkeerd. Ja, soms lyk dit vir ons asof die lyn tussen reg en verkeerd so naby is dat ’n mens nie weet watter een om te kies nie. Tog, hoe meer ’n mens God se Woord lees, hoe verder trek reg en verkeerd uitmekaar en kan die regte besluit makliker geneem word.
Mag die woorde vir ons ook waar word: 3Soos my voorouers God gedien het, dien ek Hom ook met ’n skoon gewete omdat ek my plig gedoen het.
Mag ons elke dag ons plig doen, mag ons sorg dat ons die nuutste weergawe gewete hê, want dan gaan ons gewete fluit-fluit deur die lewe loop.
Teks
2 Timoteus 1:3-4
Om oor na te dink
Hoe lyk jou gewete?
Het jy die nuutste weergawe?
Waar moet jy ’n verstelling aanbring?
Gebed
Here, maak my sensitief en gehoorsaam aan U Heilige Gees se stem hier binne my. Ek weet dit is hoe U my op die regte pad wil lei. Amen.