God se Woord in vandag se woorde

Nuwe status vir joune


Ek kyk ’n TV-reeks op Netflix met die naam, The Queen’s Gambit. In die eerste program is daar ’n toneel waar die hoofkarakter, Beth, en haar ma in die kar ry. Haar ma sê sy moet haar oë toemaak en toe ry sy voor ’n lorrie in. Net daar verander Beth se status na weeskind, want sy weet nie wie of waar haar pa is nie.

In die weeshuis kyk sy gedurig by die venster uit en wonder sy saam met die ander kinders of daar ooit ’n nuwe ma of pa vir haar sal opdaag. Na ’n paar jaar verander haar status na aangenome kind. Die pa is maar weer afwesig, maar die ma raak soos ’n vriendin wat haar help om die leer te klim tot sy een van die beste skaakspelers in die wêreld word.

Ek dink nie ons besef dit aldag nie, maar Jesus het dit vir ons moontlik gemaak dat ons status ook kan verander. Ons status was eintlik maar verlorenes. Die pad wat ons almal gestap het, was die pad na die ewige dood. Maar Jesus se dood was die offer wat ons status heeltemal verander het. Van verlorenes na wenners. Van weeskinders na God se kinders.

10So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons God s’n en net Syne geword.

Ek vermoed ons is nie altyd bewus van wat hierdie status beteken nie. As ons werklik verstaan wat dit beteken, sal ons anders leef. Met die kleinste windjie van voor, begin ons bene te bewe en knak ons knieë, want ons vergeet wat ons status regtig is. Ons vergeet wie ons Pa is. Ons vergeet dat ons God s’n is en net Syne. Hy sal mos na ons omsien.

Ek kry ’n e-pos van Michelle uit die Oos-Kaap. Haar storie is aangrypend. Haar nuwe man snap hierdie ding van sy status as kind van God. Hy het vir twee jaar nie werk gehad nie, al het hy hordes CV’s uitgestuur. En tog het hy geglo en met alles in hom op God se Woord bly staan.

Michelle sê dat haar geloof redelik gereeld gewankel het. Sy het ’n werkie by ’n salon gekry, maar met die grendeltyd, is sy ook die werk kwyt. Maar as haar gemoed op die stofpad wandel, herinner haar man haar aan die beloftes in God se Woord en dat hul Vader vir hulle sal sorg.

Hy vas vir twee weke en stuur weer CV’s uit en kry ’n onderhoud. Dit het goed gegaan en hulle sou hom later laat weet of hy die werk gekry het. Die Vrydag bel hulle en laat weet hy kry nie die werk as vurkhyser-bestuurder nie. Sy CV is te goed, sê hulle. Hy word aangestel in ’n hoër pos.

Hy ontvang die pos, die salaris en die voordele waarvoor hy gebid het en vir God vertrou het!

Dit is ’n wonderlike getuienis van iemand wat presies weet wat sy status in God is. Hy lewe dit. Hy lewe as kind van God. Hy vertrou op sy hemelse Vader met alles in hom.

Mag dit waar word in ons lewens. Mag ons ook deur elke oomblik, lekker en swaar bly lewe soos kinders met ’n nuwe status: Ek is God s’n!

Teks
Hebreërs 10:1-10

Om oor na te dink
Besef jy wat jou nuwe status is?
Leef jy jou nuwe status?
Kan ander dit sien?

Gebed
Ons Vader. Dankie vir my nuwe status. Dankie dat ek weet dat ek ’n kind van die hemelse God is en deel het aan al die voordele en beloftes. Help my om dit my eie te maak en so te leef. In Jesus se Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?