God se Woord in vandag se woorde

O, ons Grote God


Al weet God wat ons gaan sê as ons bid, moet ons steeds bid. Ja, ons moet bid, want wanneer ons hoor wat ons bid, maak dit ons anders. Ons stap anders van gebed af weg, omdat ons ’n gesprek gehad het met ’n lewende God. Dis hoekom dit belangrik is dat ons nie moet ophou bid nie. As ons nie bid nie, is dit nie God wat uitmis nie, maar ons.

Dieselfde geld vir lofprysing. Ja, natuurlik is dit vir God goed om te hoor hoe ons lofgesange tot eer van Hom sing, maar vir ons is dit ook broodnodig om dit oor en oor te hoor. Terwyl ons lofgesange sing, kry ons weer ’n duidelike prentjie van ons God. Ons besef wat Hy vir ons doen en ons kan enige steil bult uitbeur, want ons weet die grootste en sterkste God is aan ons kant. Hy sal Sy kinders nooit alleen los nie en ook nie toelaat dat enige iets ons onderkry nie.

Toe ons ’n tyd gelede met die beplanning van ’n jeugbediening begin het, het my broek gebewe. Ons vat hande met ’n paar groot organisasies. Daar is baie dinge wat gereël moet word. Daar is baie dinge wat woes verkeerd kan loop. Ons is verskriklik onder druk met tyd. Ek kom agter dat my maag draai en ek lê lank wakker in die nagte.

Ewe skielik kom daar vrae in my kop op wat my onseker maak. Angs begin my beetkry en ek rol rond. Wat daarvan as die ding flop? Wat nou as niemand daarin belangstel nie? Wat as dit niks verder as die bekendstellingsnaweek gaan nie? Wat van die mense wat ons aangestel het? En so kom maak vrees homself tuis in my lewe.

Gelukkig help die Gees my om ’n beter prentjie te kry. Nie van myself nie, maar van my God. 15… Hy is mos ons wonderlike en enigste Heerser. Hy regeer oor almal wat in hierdie wêreld regeer en Hy heers oor almal wat in die wêreld heers. 16Hy leef vir altyd… Almal moet sy Naam grootmaak, want die krag wat nooit ophou nie, is Syne. Sowaar!

Voordat ek begin skryf, word ek eers stil om te bid. Omdat ek sukkel om te konsentreer, skryf ek my gebed neer. Oor God skryf ek: Hy is die Grote, die Almagtige met alle krag in die wêreld. Hy is die Een wat alles gemaak het. Niemand is groter as Hy nie en Hy is die enigste, ware God.

Toe vloei die woorde sommer so uit my pen: Hy is alomteenwoordig, regverdig, liefdevol, Lig in die duister, Helper, Rigtinggewer, Heilig, die begin en die einde. Hy droom drome vir my en help my om daar uit te kom. By elke verkeerde keuse wat ek maak, bring Hy ’n hoop genade en nóg kanse en keuses wat my terug kan bring op Sy pad.

Ek skryf nog baie meer neer.

Toe ek opstaan, is ek anders, want my beeld van God is weer heeltemal in fokus. Ek besef dat my God soveel groter is as my probleem of my uitdaging. Ek besef dat die Een wat in beheer is die hele tyd saam met my is. Ek besef dat wat ek doen en dit wat ek ook nie doen nie, geen impak het in God se betrokkenheid in my lewe nie. Ten spyte van my doen en late, bly God in my en Hy sal nie toelaat dat die uitdaging voor my, my oorrompel nie.

Ons moet meer lofgesange tot God sing. Ja, God wil dit hoor, maar die een wat in die proses anders word, is ons en nie God nie. Nou kan ons weer kans sien vir die lewe daar buite, want ons God staan nog steeds gereed om orals saam met ons te stap.

Teks
1 Timoteus 6:11-16

Om oor na te dink
Hoe groot is jou God?
Hoe groot is Sy aandeel in jou dag?
Hoe kan jy Hom meer deel maak van jou lewe?

Gebed
Grote God aan U die eer, heerlik is dit waar U regeer. U is in beheer en U is by my in enige krisis. Ek wil daaroor sing en bly wees. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek