God se Woord in vandag se woorde

Om agter en voor te stap


Filippense 3:17-21

Ek en my vrou was betrokke by ’n mobiliseringsorganisasie waar die kerk gemobiliseer word om betrokke te raak by die nood in die wêreld. Daar behoort ’n groot verskeidenheid van mense regoor die wêreld aan die organisasie. Wanneer jy by hulle aansluit, raak iemand wat al ’n geruime tyd betrokke is, jou mentor.

Watter ongelooflike idee! Die persoon kan jy enige tyd bel, want die kans dat die persoon al met sulke vrae of situasies gekonfronteer is, is amper 100%. Hy of sy het al daardeur geworstel, weet waar om te soek vir die uitkomspaadjies en kan ’n mens in die regte rigting lei.

’n Mentor is kosbaar en almal van ons behoort een te hê!

Agter wie loop jy aan? Wie is jou mentor, of dink jy nie jy het een nodig nie?

Dalk is daar mense wat dink dat ons nie agter mense moet aanloop nie, maar agter God. Dit is so. Ons moenie in mense glo nie, maar in God. Tog kan ons mekaar help om agter God aan te stap. Hoekom moet ons dieselfde foute maak as ander? Hulle kan ons juis help om nie die foute te maak nie en ons ’n klomp swaar en seer spaar.

As jy ’n mentor het wat voor jou stap, is die pad effe makliker. Jy sal hope tyd en energie spaar deur nie in onnodige paadjies af te draai nie. Maak egter net seker dat die persoon agter wie jy aanstap op die regte pad is. Jy wil nie jouself voor ’n afgrond bevind nie.

Nou vir ’n moeiliker vraag: Wie stap agter jou aan? Vir wie is jy ’n mentor? Dan nog moeiliker: Is jou lewe van so ’n aard dat iemand maar daarna kan kyk en maak soos jy maak?

Sjoe, dit is nie maklik nie. Christenskap is nie vir sissies nie. Jy moet hare op jou tande hê.

17My broers en susters, doen wat ek gedoen het. Wees my navolgers. Terwyl ek nie daar is nie, moet julle die mense se voorbeeld volg wat die wedloop net soos ek hardloop. Dit is belangrik dat julle die regte mense volg.

Ons moet ons lewens so loop dat ons ander mense nader trek. Dit is ’n ongelooflike groot verantwoordelikheid, want neem jy die verkeerde afdraai, kan jy ander mense tot ’n val bring.

Miskien moet jy gou weer die vorige sin lees.

Ons besef nie watter groot verantwoordelikheid ons het om die lewe reguit te stap nie. Baie mense met wie ons deur die dag in aanraking kom, is op soek. Hulle is op soek na die sin van die lewe. Hulle is op soek na raad. Hulle is op soek na vreugde en vrede. Hulle soek na iemand om hulle te help, om voor te stap en vir hulle die pad te wys wat die uitkoms bring.

Dit is dalk jy!

Maak seker dat jy agter die regte mentors aanstap. Maar maak ook jou oë oop en sien dat daar mense is wat agter jou wil aanloop. Bly op die regte pad.

Om oor na te dink

Het jy iemand wat jou op jou pad kan help?

Waar kan jy vir ’n mentor gaan soek?

Vir wie is jy ’n mentor?

Gebed

Vader, help my om elke dag agter U aan te stap sodat ek ook soos Paulus kan sê dat ander maar agter my kan aanloop soos wat ek agter U aanloop. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?