Om alle stoppe uit te trek om te help
Dis droog. Baie droog. Mense kry swaar. Diere kry swaar. Boere moet radikale spronge maak en orals is daar nie antwoorde op al die vrae nie. Daarom bid hulle. Daarom kom daar gereeld gebedsversoeke soos die ene van Piet:
Bid asb. vir raad en leiding. Ek wil ‘n klomp diere verkoop en ‘n kern kudde van 500 diere aanhou. Met die verkope moet ek my skulde by die bank kan betaal. Of bid dat die Here iemand oor my pad sal stuur wat die diere vir ‘n jaar sal neem en dan weer vir my die skape sal teruggee.
Dit is darem erg as dit so sleg gaan. Piet weet waar sy hulp vandaan kom. Hy weet Wie is in beheer, daarom draai hy na God in gebed. ’n Kort gebed, eintlik ’n uitroep vir hulp.
Maar tog gaan sit hy nie in sak en as nie. Nee, hy maak planne om te oorleef. Planne vir sy skaap om te oorleef.
Soos gewoonlik gaan die gebed van Piet saam met al die ander gebedsversoeke na al die intersessors toe. Ons glo in gebed. God luister.
Een van die intersessors stuur hierop ’n e-pos aan ons:
Hoop dit gaan goed met jou en die span! Is dit enigsins moontlik om my in kontak met Piet te bring – wat op die gebedsversoeke oor sy skape praat, en iemand soek om die ooie vir ‘n jaar te hou asb? Baie dankie. Mooi dag.
Ons vra vir Piet toestemming om sy besonderhede vir Jan te stuur. Jan reageer:
Baie dankie vir die inligting. Ek is self ’n boer en ons finansies is self baie onder druk. Ons is wildboere en ons Swartwitpense se pryse het die afgelope 3 jaar met meer as 90% gedaal! Dalk net kan ek hom met sy skape help. Dalk ook net op ’n ander vlak help om sy gemoed op te lig – ons is regtig in dieselfde bootjie! Mooi dag.
Jan kan homself nie keer nie. Hy is self diep in die moeilikheid. ’n Groot gedeelte van sy inkomste het sommer net so in die niet verdwyn omdat mense besluit het sy duur bokke is nie meer so baie werd nie. Maar meer nog, die droogte tap ook al sy kragte en sweet.
En tog wil Jan help. Hy wil vir sy medeboer, wat hy van geen kant af ken, intree en vir hom en sy diere en sy plaas voor die Almagtige Here gaan neersit. En eintlik is dit al ons kinders van God se verantwoordelikheid. Ons moet mekaar voor ons Vader se aangesig indra, want ons gebede klink net saam beter en harder op God se ore.
Maar dit dring Piet om meer te doen. Jy sien, ons moet die onmoontlike vir God los en dan verwoed soek na wat onsself moontlik kan doen. Ook vir ander. Daarom wil Piet vir Jan help met die skaap. Al trek hy self swaar, kan hy nie anders as om vir Jan plek te maak vir sy skaap nie.
Dit is vir my so ’n groot aansporing om ander te wil help. Ek glo met my hele hart dat God ons hier op aarde gesit het om mekaar te help. Soms gaan dit broekskeur en God wil help, deur ons hande en voete en soms ook beursies.
Dan lees ons die vers: 7Wat jou betref, jy moet in alles wat jy sê en doen ’n voorbeeld stel van hoe ’n Christen behoort te leef. En alles maak sin…
Teks
Tit 2:6-8
Om oor na te dink
Waar moet jy ’n voorbeeld wees?
Wat moet jy sê?
Wat moet jy doen?
Gebed
Here, help my om nie net hande gevou te sit en wag dat U ander mense help nie, maar om bereid te wees om U hande en voete te wees. Veral wanneer dit van my iets vra. Amen.