God se Woord in vandag se woorde

Om alles opsy te stoot


Filippense 2:6-11

Dit is vir my onmoontlik om ten volle te begryp waardeur Jesus moes gegaan het. Ek kan my nie indink watter opoffering dit vir Hom moes wees om sy status as God vir eers opsy te stoot en mens te word nie. Hy was rustig in die hemel besig met sy God-dinge. Almal het presies geweet wie Hy is en almal het Hom as God geëer. Jesus was rustig in sy comfort zone.

Toe kom die opdrag van God: ’n Reddingsplan is nodig om dit vir die mense moontlik te maak om die Ewige Lewe saam met God deur te bring. Jesus moes sy status eers opsy stoot. Hy moes mens word.

Jesus sien die groter prentjie en is nie bang nie. 6Jesus staan in status op gelyke voet met God. Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy tot elke prys aan dié status wou vasklou nie. 7Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie.

Ek wonder hoe ek sal reageer as ek die oproep kry om alles net so te los en my status te verander na amper niks nie? Dit ter wille van ’n klomp sondige mense wat heeltemal van die pad af is. Ek vermoed ek sou gevra het of daar nie iemand anders is wat dit eerder wil doen nie.

God en Jesus moet ons darem verskriklik liefhê om met so ’n plan vorendag te kom. Ek is so dankbaar dat Jesus nie iemand anders gesoek het om in sy plek na die aarde te kom nie. Ek is so dankbaar dat Hy bereid was om so baie op te offer sodat ons weer ’n kans het om die hemel in te gaan.

Die vraag is: Hoe dankbaar is ons? Is ons ook so dankbaar dat ons self iets sal opoffer? As ons gevra word om iets wat lekker is eenkant toe te skuif, sal ons dit doen? Tyd, geld, eer, aansien, energie, sport, ontspanning? Is jy bereid om enige iets opsy te skuif om vir ander tot seën te wees?

Ek dink sommer nou aan die verhaal van Abraham. Hy en Sara wat ’n leeftyd geworstel het met ’n nageslag en hoe God hulle op ’n baie hoë ouderdom tog met ’n kind seën. Hoe groot het die vreugdevure nie in hulle harte gebrand nie?

Maar dan die oproep om hierdie geliefde seun, hulle hoop op ’n nageslag, te offer. Ek kan my nie indink wat deur Sara en Abraham se koppe moes gegaan het nie. Tog was hulle heeltemal bereid om dit te doen. Vir hulle was gehoorsaamheid aan God meer belangrik as hulle eie vlees en bloed en daarom was hulle bereid om vir Isak te offer.

Nou weer die groot vraag: Is jy bereid om dit wat vir jou belangrik is, opsy te skuif of op te offer? Is gehoorsaamheid aan God vir jou meer belangrik as enige iets hier op aarde? God wil vir seker vir ons die beste hê en sal dalk nie sulke hoë eise aan ons stel nie. Maar soms is daar dinge wat ons doen, dinge wat vir ons vreeslik lekker is, wat tussen ons en God kom staan.

God is ’n jaloerse God en Hy wil nie hê dat daar dinge tussen ons en Hom moet inkom nie. God verwag van ons om die kanaal tussen Hom en ons skoon te hou. Dis hier waar die opdrag kom dat ons moet skoonmaak. Dat ons dit wat so belangrik vir ons is, opsy te stoot en op te offer. Is jy bereid om dit te doen? Kan jy soos Jesus sê dat dit nie belangrik is nie en dit gaan doen?

God moet ons help, want ons sukkel hiermee.

Om oor na te dink

Is jy bereid om dinge wat belangrik vir jou is, opsy te stoot ter wille van God?

Wat moet jy op offer?

Hoe gaan jy dit regkry?

Gebed

Vader, ek besef net weer U liefde vir my. Ek besef net weer hoe lief U my moes hê om bereid te wees om alles op te offer. Ek wil in dankbaarheid ook opoffer wat in die pad staan tussen my en U. Help my tog daarmee. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek