God se Woord in vandag se woorde

Om alles uit te haal


Op ’n Vrydagaand 18:00 gaan haal ek my seun by die universiteit se sportsentrum. Hy het ’n hele paar kilometers se oefening agter die blad. My mond hang oop om te sien hoeveel karre daar op ’n Vrydagaand staan. Daar gaan soveel opofferinge in, soveel ure se meedoënlose oefening om eendag die top in jou sport te bereik. Jy moet alles uithaal en wys.

Ek haal my hoed vir elke sportman af.

En ek vermoed dit is presies wat Paulus gedoen het. Met alles in hom het hy uitgehaal en gewys. Elke stukkie beskikbare tyd het hy gebruik om God se Woord aan ander mense te bring. As hy nie self na ouens toe kon gaan nie, het hy briewe aan hulle geskryf.

Selfs toe hy onregverdig in die tronk gegooi is, het hy geen energie gemors om vir God te vra hoekom dit met hom gebeur nie – hy het mos nie iets verkeerd gedoen nie. Nee, hy gebruik eerder die energie om ’n positiewe impak in die Koninkryk van God te maak.

Daarom sê hy: 29Daarvoor gee ek alles. Ek werk hard en doelgerig daarvoor soos iemand wat in ’n resies alles uithaal. Wanneer ’n atleet in die pylvak is, sien jy eintlik hoe bult sy spiere. Sy gesig trek van die pyn soos hy alles uithaal en wys. So haal Paulus alles uit, selfs al veroorsaak dit pyn en seer en swaar.

Ons eet by vriende waar ek die legendariese Johan Fourie, 1500 meter ster-atleet van die tagtigerjare ontmoet. Hy vertel dat hy dit reggekry het om homself só te druk dat hy ná afloop van ’n wedloop inmekaargesak het omdat hy al sy energie tydens die wedloop opgebruik het.

Ek het my daardie aand voorgeneem dat ek dit ook in die gym gaan probeer, maar toe ek na die eerste twintig minute besluit om aan te gaan, was daar êrens in my kop ’n knoppie wat net afgegaan het en toe kom my hele lyf in opstand. Inteendeel, my liggaam slaan toe só vinnig brieke aan dat ek amper van die masjien afval.

Baie van ons moet erken dat ons nie naastenby soveel energie in die Koninkryk van God insit soos wat ons behoort te doen nie. Daar is soveel meer wat ons kan doen, maar dit lyk vir my daar is ’n knoppie wat net afsit en ek vermoed dis ’n selfsugtige knoppie wat net aan onsself dink.

Ek haal my hoed af vir die atlete wat so hard oefen. Ek bewonder ouens soos Johan wat hulleself kan druk en hulle alles gee om die wennerslint te breek. Ek staan verstom as ek sien hoe Paulus dit doen.

Ek wil dit ook doen. Ek wil ook elke stukkie energie gebruik om God se Woord met ander te deel. Dalk moet ek en jy net weer ’n draai gaan maak by ons roeping, sodat ons kan besef dat God ons wil gebruik daar waar ons is.

Dalk is dit nie om ander voor die bors te gryp en te vra wat is hulle storie met God nie (of dalk is jy daardie een). Dalk is jy die een wat deur jou dade vir ander wys hoe God lyk sonder om woorde te gebruik.

Kom ons werk aan ons passie. Kom ons oefen dat die biesies bewe en sit al ons energie in. Die wêreld sal dan vir seker anders lyk.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:28-29

Om oor na te dink

Gee jy jou alles vir God se Koninkryk?

Werk jy hard en doelgerig vir God?

Hoe laat dit jou voel?

Gebed

Vader, ek weet ek kan en moet meer energie in die uitbreiding van U Koninkryk sit. Ek weet ek is te veel op myself ingestel. Staan my by en gee vir my wysheid om te leer om meer op U doel vir my te fokus. Help my om alles uit te haal om werklik ’n verskil te maak. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?