God se Woord in vandag se woorde

Om amps te trek


Filippense 3:12-16

My seun is ’n kranige swemmer. Ek haal my hoed af vir hom wat so doelgerig oefen – 6 dae per week vir die grootste gedeelte van die jaar. Selfs deur die winter moet hy vasbyt en bly oefen, want vir swem kan jy nie sporadies oefen nie. Dis eintlik ’n leefstyl.

Ja, dis nie maklik nie, want soms mis hy uit op sosiale bedrywighede. Wanneer sy maats luilekker rondlê, moet hy sy fiets optel en swembad toe ry. Dan hou hy die podium in die oog en druk deur.

Sy getroue oefening word beloon deurdat hy kort-kort ’n nuwe doelwit bereik. Om sukses in enige iets te behaal, is daar tot ’n groot mate dieselfde vasberadenheid en toegewydheid nodig. Gereelde oefening, baie herhaling, fokus en groot opofferings is alles deel van ’n suksesvolle pad. Ook wanneer dit kom by ons geestelike lewe. ’n Intieme verhouding met God kom nie sommer vanself nie. ’n Mens leer nie ander ken deur net ’n paar minute per dag met mekaar te kommunikeer nie. Nee, dit neem tyd. Dit neem energie. Jip, dit trek hope amps.

Paulus besef ook dat dit baie amps trek en dat hy alle stoppe moet uittrek om oor die geestelike wenstreep te kom: 12Ek wil nie voorgee dat ek geestelik al alles het of al geestelik by die wenpaal verby is nie. Ek span nou eers alles in my in om daardie doel te bereik…

Paulus is eerlik en erken dat hy nog nie gearriveer het nie. Al het hy vir God op die pad na Damaskus gesien, het hy nie alles geweet nie. Hy was maar nog ’n groentjie in die geloofsdinge. En nou, ’n paar jaar later, besef hy dat hy nog baie moet leer. Hy is bereid om alles in te span, op te offer en ja, amps te trek om by die wenpaal uit te kom.

Die Griekse woord (diōkō) wat hier gebruik word, kan ook vertaal word met suffer! Dis wat my klong partykeer moet deurmaak as sy vriende hulle eie ding doen en hy moet gaan oefen. Dis nie altyd maklik nie en soms kort dit ’n dik stroom motivering om vas te byt en sy doelwit in die oog te hou.

Ons behoort eintlik ook elkeen ’n geestelike oefenprogram te hê. Ons moet besef dat ons baie energie in die verhouding moet sit. Ons moet elke dag tyd met God deurbring om op die ou end by die geestelike wenpaal te kom. Soms sal daar tye kom wat ons sal moet opoffer, tye wat ons selfs sal moet diōkō, suffer, om suksesvol te wees.

Wanneer dit egter by geestelike oefening kom, is daar altyd ’n bietjie hulp: 12… Ek span nou eers alles in my in om daardie doel te bereik, juis omdat Jesus sy hand na my uitgesteek en my vasgegryp het.

Jesus het dit vir ons moontlik gemaak om ’n persoonlike verhouding met Hom te hê. Hy het sy hand na ons uitgesteek. Hy het ons kom vasgryp en gesê Hy sal ons help. Hy het eerste na ons uitgereik en juis daarom kan ons met die wedloop begin. Ons is nie alleen nie. Jesus weet wat dit beteken om amps te trek, want Hy het hoërgraad amps aan die kruis getrek.

Kom ons neem Jesus se hand en span alles in om saam met Hom en ander gelowiges volspoed oor die wenstreep te hardloop.

Om oor na te dink

Hoeveel amps trek jou verhouding met God?

Is dit genoeg?

Wat kan jy anders doen?

Gebed

Here, ek smag daarna om U beter te leer ken. Ek wil meer tyd met U deurbring. Dankie dat U u hand uitsteek na my en my aanmoedig om by die wenstreep te kom. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?