God se Woord in vandag se woorde

Om dankie te sê beskerm my


Tydens gebed gaan dit eerstens nie oor my nie. Nog minder is gebed ’n inkopielys waar ek slegs my begeertes aan God bekend maak. Nee, in die middel van my gebed staan God. Gebed is die plek waar ek minder raak en God meer. In gebed klim ek van die stoel af en laat toe dat God weer Sy plek in my lewe as Hoof oorneem.

Wanneer ek tot God bid, besef ek dat alles van Hom af kom. Sonder God in my lewe is ek niks. Ek snap my eie onvermoë en dat ek op my eie ’n nul op ’n kontrak is. As ek terugkyk oor my lewe en sien wat God reeds vir my gedoen het, kan ek nie anders as om Hom te loof en prys nie. Dan word ek oorval met dankbaarheid.

Dan is ek so bewus van my nietigheid teenoor alles wat ek van God ontvang. Tydens gebed raak ek bewus van my bors wat op-en-af beweeg en ek sê vir God dankie dat ek kan asemhaal. Ja, die dinge wat ek as vanselfsprekend aanvaar soos my hart wat elke minuut 5-liter bloed vars deur my liggaam pomp. Hoe groot is ons God wat alles so fyn beplan en geskape het! Weereens word ek oorval met dankbaarheid.

2Bid gereeld en gedissiplineerd. Sê ook vir God dankie vir alles wat Hy vir julle doen.

In die 1933-vertaling, word dit soos volg vertaal: 2Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging.

Ons ken nie eintlik meer die woord waak nie. Dit neem my egter terug na my dae in die weermag. Daar moes ons gereeld in die nag wag staan. Sjoe, dit was vir my die moeilikste ding om te doen, want na ’n vol dag se gerondjaagery moes jy jou kwota slaap inkry. Dit was dan ’n groot pyn om wag te staan. Kyk, as jy vaak is, val jou oë sommer toe. Groot was die moeilikheid as die luitenant jou aan die slaap gevang het terwyl jy wag moes staan.

In daardie jare moes ons wagstaan om seker te maak dat die mense wat ons beskerm nie iets oorkom nie.

Net so moet ons ook in gebed wag staan of seker maak dat ons vir God dankie sê. Dit is ’n opdrag wat ons ten alle koste moet uitvoer. Ons moenie aan die slaap raak of vergeet dat ons vir God moet loof nie. Eintlik is dit daar vir ons eie beskerming, want tydens ons dankie sê, kry God Sy regmatige plek in ons lewe en ons skuif op die agtergrond.

En nou vir die moeiliker gedeelte: Ook wanneer dit nie so goed gaan nie, moet ons vir God dankie sê. Dikwels is dit juis tydens die dankie sê waar daar genesing kom.

Kyk hoe mooi sê die halleluja-lied dit:

As die lewenstorme woedend om jou slaan,
en jy gans ontmoedig vrees om te vergaan
tel jou seëninge tel hul een vir een en
jy sal verbaas wees oor wat God verleen.

Tel jou seëninge, tel hul een vir een,
seëninge jou deur God geskenk!
Tel hul almal, kyk wat God verleen,
en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!

As jy ooit gebuk gaan onder sorg en pyn,
as die kruis te swaar word en jou krag te klein –
Tel jou seëninge, dan vlug twyfel heen,
en jy sien Gods goedheid laat jou nooit alleen!

En wanneer jy al dié seëninge raaksien, word jy oorval met dankbaarheid teenoor God.

Teks

Kolossense 4:2-6

Om oor na te dink

Sê jy vir God genoeg dankie?

Hoe kan jy dit verander?

Gebed

Vader, help my om waaksaam te wees en gedurig in gesprek met U te wees. My hart loop oor van dankbaarheid dat U altyd beskikbaar is en daarvan hou dat ek met U praat. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek