God se Woord in vandag se woorde

Om die Heilige Gees se trane te keer


Hier in die middel van die perikoop stop Paulus eers die bus. Dit is amper soos ’n broodjie met twee snye en ietsie in die middel. Die eerste sny is die verse waar gesê word dat ons nie moet lieg nie, nie kwaad word nie, nie die duiwel vatkans gee nie, nie steel nie en nie vuil grappe vertel nie. Die tweede sny is die verse hierna, wat bitterheid, vinnige humeur, vloek en optrede teenoor ander hard aanspreek.

Die middelste gedeelte van ’n toebie is mos gewoonlik die belangrikste en ook waaroor alles gaan. Die broodgedeelte smaak nie na veel nie, maar dit is juis die middelste gedeelte wat die oemf gee. Vers 30 gee die oemf: Moenie die Heilige Gees wat God vir julle gegee het, se hart seermaak nie. Dat die Gees in julle is, is die bewys dat julle aan God behoort. So sal dit bly tot op die dag dat ons finaal van die sonde ontslae sal wees.

Eintlik wil Paulus ons net vir ’n oomblik tot stilstand ruk, want so gou lees ons oor die voorstelle hoe ons moet lewe, dat ons nie eintlik die impak verstaan nie. Ons is mos so geneig om met ’n halwe oor te luister. So asof dit nou weer jou ma is wat nag oor die klere wat van die kamer se vloer opgetel moet word. Ja, Maaaaa! Ek weet, ek sal dit optel. Net so met Paulus se voorstel: Ja, Paulus, ek weet ons moet reg lewe. Sorry.

Hierdie is nie net ’n paar reëltjies wat ons moet probeer onthou nie. Nee, hierdie is ’n manier van lewe. Dis nie net ’n opsionele karaktereienskap wat ons kan aantrek as ons wil nie. Nee, ons moet die werklike impak daarvan verstaan.

Die Heilige Gees woon in ons en wanneer ons in hierdie gate trap en neerploeg, maak dit die Heilige Gees ernstig seer. Die Gees het sulke wonderlike drome saam met ons. Hy wil saam met jou binne die wil van God lewe en alles in Hom roep uit dat jy nie oor die grense sal kruip nie. As dit dan gebeur, as jy die verkeerde dinge doen, is die Gees verskriklik teleurgesteld.

As ons vir God aanneem as ons Verlosser, ontvang ons die Gees. Hy kom woon in ons. Hy help ons om ons lewens in lyn met God se wil te kry. Hy help ons om te verstaan wat reg en verkeerd is en om die regte pad te kies. Die keuse bly egter ons s’n. Die Gees sal ons nooit dwing nie.

En as ek dan so na my eie lewe die afgelope week kyk, sien ek ’n paar plekke waar ek presies in die gat getrap het, waar ek kwaad geword het, waar ek nie altyd 100% eerlik was nie, waar ek vir seker die duiwel vatkans gegee het. Op ’n manier sien ek die trane van die Heilige Gees oor sy wange rol. Dis my skuld. Ek het die verkeerde keuses gemaak.

Ai!

Gelukkig is God se genade so groot dat die Heilige Gees nie uittrek nie. Tussen die trane deur byt Hy vas al is dit nie vir Hom lekker nie. Hy bly hoop dat daar met ’n volgende preek, of fliek, of lied, of boek, of gesprek met ’n vriend ’n beter verstaan van reg lewe sal vasslaan en dat die optrede volgende keer beter sal wees.

Kom ons bely ons sondes voor die Heilige Gees. Kom ons huil saam oor die verkeerde keuses. Kom ons droog sy trane af en probeer weer om so te leef dat dit vir Hom vreugde bring. Mag die Gees se trane deel van die verlede bly.

Teks:

Efesiërs  4:17-32

Om oor na te dink

Waar maak jy die Heilige Gees bedroef?

Wat kan jy doen om daardie dade uit jou lewe te kry?

Wat kan jy doen om dit vir die Heilige Gees lekker te maak?

Gebed

Here, ek voel nie lekker nie. Ek weet daar is dinge in my lewe wat dit nie lekker vir die Heilige Gees maak om in my te bly nie. Help my, Vader, om ernstig te wees oor dit wat U voorstel vir ons lewe. Ek wil so graag binne U wil lewe. Help my om die regte keuses te maak. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?