God se Woord in vandag se woorde

Om gekou te word


Elke nou en dan kry ek pak oor iets wat ek gesê het. Sommige kere is dit omdat ek iets verkeerd gesê het. Soos met die instelling van die Popia-wet, toe ek vinnig probeer sê het wat dit is.

So byvoorbeeld mag iemand jou nie sommer uit die bloute bel om nóg ’n selfoonkontrak of polis aan jou af te smeer nie. En as jy vra waar hulle jou nommer gekry het, was dit mos by jou antie se kleinseun, Piet se vriend, Koos se vriendin, Sarie se broer, Jan.

Ek het gedog dis kort en koddig gestel en almal sal verstaan. Maar ek kry toe ’n skrywe van ’n finansiële raadgewer wat beswaar aanteken, omdat ek sê dat ’n polis “afgesmeer” word.

Ek besef dit was ’n fout en ek vra om verskoning.

Elke keer as mense kritiek op my skrywes het, gaan kyk ek weer en vra ander se mening. Soms is die kritiek nie gegrond nie, want dis oor die waarheid wat die kritici hulle monde uitspoel.

Dan moet ek vrede maak daarmee. Dan moet ek berusting vind en weet dat wanneer jy die waarheid praat, dit nie lekker vir almal gaan wees nie en dat hulle hul monde gaan uitspoel. Soos die spreekwoord sê: “As jy jou as ’n toffie gaan etiketeer, gaan iemand jou die een of ander tyd kou.”

Ek besef dat dit nie altyd lekker is om die waarheid te hoor nie. Die waarheid het die geneigdheid om ’n spotlight aan te skakel en op al die verkeerde dade te skyn en dis nie lekker nie. Dis nie lekker om te besef dat ons op die verkeerde pad is nie. Dis nie lekker om herinner te word aan ons dade in die donker nie.

Dis nog minder lekker om te besef jy is verkeerd. Die ergste is die klomp amps wat dit trek om die verkeerde reg te maak.

Daarom probeer ons regverdig wat ons doen, deur skiet-skiet die werf in te kom, die ander een verkeerd te bewys en jou standpunt as die waarheid daar te stel. Dis soos ’n verdedigingsmeganisme wat ons in werking stel om onsself te beskerm.

Ongelukkig, met so ’n houding, mis ons baie groeigeleenthede. Wanneer kinders opstandig raak en die heeltyd teen hulle ouers opstaan, mis hulle geleenthede om beter aan die ander kant uit te kom. Die ouers tugtig juis hul kinders te wille van die kinders self. Eintlik beskerm die ouers hul kinders teen hulself, sodat hulle hul nie teen mure stukkend loop nie.

En so werk God ook met Sy kinders vir wie Hy lief is: 7… Watter kind word nie soms so deur sy pa gestraf nie? 8As God julle glad nie reghelp as julle verkeerd doen deur dinge met julle te laat gebeur wat nie baie lekker is nie, moet julle weet dat julle nie regtig sy kinders is nie. Alle kinders word soms gestraf.

Dis nie maklik nie. Dis rêrig nie maklik nie. As jy jouself etiketeer as ’n Christen, gaan jy hier en daar gekou word. Indien nie, moet daar ’n paar vrae oor jou Christenskap gevra word.

Teks
Hebreërs 12:7

Om oor na te dink
Word jou Christenskap soms getoets?
Word daar soms op jou verkeerde dade gewys?
Doen jy iets daaraan?

Gebed
Vader, ek sak my kop in skaamte. Ek weet daar is dinge wat ek doen, wat nie binne U wil is nie. Vergewe my daarvoor en help my om dit reg te stel. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek