God se Woord in vandag se woorde

Om in oefening te bly


Ons sit hier langs die rivier by Swellendam in die karavaan. My hele doel met die langnaweek is om te rus. Niks te doen nie en net te is. Die ander 3 gesinne en my vrou het egter ander idees wat om op so ’n naweek te doen. Daarom kom hulle elke laatmiddag na ’n middagslapie uit die tente met tekkies, kort broekies en hempies met gaatjies.

Na so ’n paar strekke die kant toe en dan weer ’n getrekkery daardie kant toe spring hulle vol gees hier weg. Soos bokkies trippel hulle op die stofpaadjie en verdwyn oor die bultjie. Na amper ’n uur kom hulle papnat gesweet en nie meer soos vlugvoetige bokkies hier aangestrompel. Hulle val op die stoele neer en soek na hulle asems. Toe hulle dit teruggekry het, is die eerste woorde wat uitkom: Sjoe, dit was nou lekker. Môre moet ons nog ’n bult verder hardloop.

Ek verstaan dit nie, want ek is eintlik vir liefde gebou!

Tog weet ek dit is die enigste manier waarop ’n mens fiks word. Dit is die enigste manier om jou reg voor te berei vir die wedloop wat voorlê. Al manier hoe hulle die halwe marathons kan klaarmaak, is om baie te oefen. Kilometers en liters sweet is nodig om spiere sterk genoeg te maak.

Een van die manne is weer ’n roeier, daarom roei hy weer kilometers op en af op die rivier om fiks te bly vir die volgende wedren. Alhoewel ek nie self die goed doen nie, weet ek dat jy nie maar net ’n wedloop of wedren kan doen sonder dat jy goed voorberei is nie. Voorbereiding beteken oefening, sweet en baie tyd insit.

As kind van God moet ons ook oefen. Ons moet ook fiks raak vir die wedloop. 8Jy moet oefen om dit te doen soos ’n atleet oefen om fiks te bly. ’n Atleet wat oefen om fiks te bly doen goed, maar dit help nie vir alles nie. Om geestelik te oefen om fiks te bly deur God te dien, is regtig die moeite werd. Dit help ’n mens op alle maniere, vir die lewe hier op aarde en die lewe wat vir ons wag in die toekoms.

Ons kan beslis ook nie die wêreld ingaan en dink ons kan enige wedloop hardloop sonder dat ons daarvoor geoefen het nie. Ons spiere is nog nie sterk genoeg om die wedloop te kan hardloop nie. Daarom is dit belangrik om baie tyd by God se voete deur te bring. Dit help nie maar net om gou vinnig ’n stukkie uit die Bybel of dagstukkieboek te lees, ’n skietgebed op te jaag en dan te dink jy is fiks genoeg vir die lewe daar buite nie.

Met die eerste misverstand tussen jou en jou eggenoot of kinders is daar ’n ligte oorlog. Hoekom? Omdat jy nie genoeg tyd deurgebring het om fiks te word vir die wedloop van die lewe nie. Daarom weet ons nie hoe om die situasies te hanteer nie.

As ons meer tyd deurbring by God se voete en Sy Woord bestudeer, sal ons fiks word en die wedloop van die lewe meer geniet. Dan sal ons nie halfpad moeg raak en uitval nie. As ons fiks is, sal ons wel kan volhard tot die einde.

Die lewe is nie maklik nie. Ons word elke dag gekonfronteer met besluite wat ’n groot invloed op ons lewens kan hê. Wanneer ons tyd met God deurbring en fiks is vir die lewe, sal ons weet wat die regte besluite is om in elke situasie te maak.

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Dink bietjie hieroor

Hoeveel tyd bring jy saam met God deur?
Is jy fiks genoeg vir die lewe?
Wat moet jy doen om fikser te word?

Gebed

Here, ek oefen te min, ek moet bieg. Ek sit te min by U voete om te leer van hoe ek die lewe daar buite moet leef, maar ek wil nie tou opgooi nie. Ek wil meer tyd saam met U oefen. Help my om dit meer en meer te doen. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek