God se Woord in vandag se woorde

Om Jesus aan jou lyf te ervaar


My vriend koop drie jaar terug vir hom ’n UP! (My neef het dit altyd soos volg uitgespreek: “UP uitroepteken”!) Toe ek die eerste keer by hom kom, kon hy nie uitgepraat raak nie. Ons moes dadelik na die vergadering afstap, sodat hy my kon wys watter oulike motor hy gekoop het.

Toe ons by die motor kom, het hy omtrent haar lof besing. Die stuurwiel is beplak met knoppies. Dit het spoedbeheer en selfs parkeerhulp – wie weet waarom, want die karretjie is so klein, dit pas in die nouste gaatjie. Dit het ABS en EBD en kyk, sê hy, die res van die alfabet.

En dit alles teen 20km/l! Hy kon eenvoudig nie ophou praat nie. Hy was passievol en toe ons wegstap, kyk hy so terug met daai kyk in sy oë. Ek kry eintlik ’n glimlag op my gesig en wonder of sy vrou nou kompetisie het …

En dit oor ’n klein karretjie met net ’n 1000cc enjin in. My vriend het eers ’n dubbelkajuit gery. Hoe kan ’n mens nou aangaan oor so ’n karretjie? Het sy tor dalk êrens van die balkie afgeval?

Twee en ’n half jaar na hy die kar gekoop het, vertel hy my dat hy die kar wil verkoop en soek net die bedrag wat hy skuld. My ore gaan dadelik oop, want mammie se kar is nie meer so vars nie. Ons neem die UP Uitroepteken vir ’n draai en besluit na 1km dat ons dom gaan wees om haar nie te koop nie.

En watter ongelooflike kar is dit nie! Ek kan nie ophou praat daaroor nie. Ek vertel vir elkeen wat wil hoor en selfs die wat ook nie eintlik wil luister nie, van die briljante klein voertuig wat net so uit Duitsland kom. Ek sluit gewoonlik my gesprek af met: “Dit is die mees onbesonge held in die motorbedryf!”.

Nou wat het verander? ’n Mens moet dit eers aan jou lyf voel en ervaar voordat jy regtig besef hoe goed of groot dit is. Praat is nie altyd genoeg nie.

En net so werk dit met Jesus. ’n Mens kan nie lekker besef hoe groot Jesus is en hoe groot Sy dade hier op aarde is, voordat jy dit aan jou lyf ervaar nie. Besef jy dat Jesus, naas God, die grootste persoon in die heelal is?

4Daar sit Hy nou op die ereplek langs God. God het Hom belangriker as enige ander hemelse wese gemaak. Daar is nie ’n hemelse wese wat in status of posisie naby die Seun kom nie. Hy is eenvoudig baie groter as hulle.

En Hy en God besluit dat Hy Sy lewe vir ons hoop sondaars sal opoffer aan ’n houtkruis, sodat ons nie soos vlieë sal omdop en net sal doodgaan nie. Sy almagtige daad stoot die deur van die hemel vir ons oop! Ons is vry! Ons het hoop! Ons het nie ’n einde nie! Ons lewe vir altyd.

Dit alles is moontlik gemaak deur die grote, liefdevolste, genadigste Jesus, Seun van God.

As hierdie net vir jou woorde is, gaan jy dit nie vang nie. Maar as jy besef hoe sondig jy is en hoe jy nie die hemel verdien nie en slegs uit Jesus se genadedaad gered word, dit in jou liggaam, jou lewe en jou wese ervaar, sal jy soos ek op jou knieë val en net dankie sê. Maar meer nog. Dan sal jy uit dankbaarheid ander wil help voel en ervaar, want Jesus, die grootste Seun van God in die heelal, is die enigste Antwoord.

Gaan doen dit nou!

Teks
Hebreërs 1:1-4

Om oor na te dink
Weet jy hoe sondig jy is?
Ervaar jy Jesus?
Wys jy ander hoe wonderlik Hy is?

Gebed
Jesus, Koning van die wêreld, hoe groot is U nie! U is groter as enige iets of iemand in die heelal en U het besluit om na die aarde toe te kom. U kom red my lewe. U kom red al die ander se lewens. Help my om hulle te help om U aan hul lywe te ervaar. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek