Om lekker geure af te gee
Ons was ’n hoop kinders en soms was my ma bang dat daar dalk nie genoeg kos sal wees as daar gaste kom nie (wat natuurlik nooit so was nie). Dan het my ma altyd ’n kodewoord om die tafel gestuur: FHB – family, hold back! Na die tyd sal ons dan spottenderwys sê: Dis min, maar dis in!
Ek sit en dink nou hieraan, want Paulus is so dankbaar, al was dit nie baie wat hy van die mense ontvang het nie. Tog sê hy: 18Epafroditos het vir my alles gegee wat julle gestuur het. Nou het ek oorgenoeg, alles wat ek nodig het. God hou baie daarvan.
Wat ookal Paulus ontvang, is vir hom oorgenoeg. Hy is tot oorlopens toe dankbaar en vra nie ’n stukkie meer nie. As jy niks het nie en jy ontvang iets, is dit baie. Daarom die dankbaarheid by Paulus.
Maar Paulus hou nie hier op nie. Hy gee ook vir die gewers ’n kykie in hoe God daaroor voel. Het jy al ooit gewonder hoe voel God as mense mekaar help? As mense in ander se nood voorsien? Paulus stel dit so mooi: 18… Vir Hom is dit soos ’n wonderlike offer wat baie lekker ruik. Niemand is en kan ooit so ryk en belangrik wees soos God nie.
Die 1983-vertaling vertaal dit so mooi: 18…Julle gawe is voor God ‘n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig.
God wil graag goed doen aan ander mense. God wil aan elke mens op aarde goed doen. Dit is God se grootste begeerte dat mense wat swaarkry se nood verlig word. Vir baie van die noodverligting gebruik Hy mense. Mense word as te ware God se hande en voete.
Wanneer mense dan gehoor gee aan God se opdrag om ander te help, om dit vir ander makliker te maak en vir hulle beter omstandighede skep, is dit vir God so lekker. Dit ruik soos vars blomme en bring ’n geur van opwinding na die hemelpoorte.
Ek wonder sommer hardop hoeveel goeie geure ek al by God laat uitkom het? Hoeveel keer het God al gehoop dat ek uit my gemakstoel sou opstaan waar ek die swaar gesien het? Dit sou so ’n aangename geur afgegee het en tog het ek gekies om my kop weg te draai en eerder niks te doen nie.
Ai!
Ek besef dat ons ’n groot uitdaging in hierdie wêreld het. Ons het die bar al so hoog gesit dat ons self nie meer tevrede is met die gewone dinge nie. As jy deesdae vra hoeveel is genoeg, dan hoor jy dit orals: Nog! Nog is genoeg!
Miskien moet ons ’n bietjie rondkyk na die mense wat minder as ons het, sodat ons kan besef wat ons reeds het. Dan sal ons hopelik oorval word met emosies van dankbaarheid. Dan sal ons hopelik besef hoeveel ons regtig het en aangevuur word om ander te help.
So sal ons God se hande en voete word. En weet dan: 18… Vir Hom is dit soos ’n wonderlike offer wat baie lekker ruik.
Laat dit lekker ruik by God!
Om oor na te dink
Sien jy ander se nood raak?
Doen jy genoeg?
Hoe ruik dit?
Gebed
Vader, kan ek ooit genoeg doen uit dankbaarheid vir wat U vir my gedoen het? Nee, nooit nie! Ek besef dat ek meer moet doen. Maak my oë oop. Help my om my selfsugtigheid op die bank te los en orals waar ek kan U hande en voete te wees. Amen