God se Woord in vandag se woorde

Om minder te praat in die geHOORbuis


Paulus kan nie ’n brief skryf sonder om oor gebed te skryf nie. Hy glo te veel en het al te veel die krag van gebed ervaar om dit maar net te laat verbygaan. Daarom die opdrag: 1Die eerste ding wat ek vra, is dat julle vir almal moet bid. Vra dat God almal moet help met wat hulle nodig het en sê vir God dankie daarvoor. 2Dit maak nie saak of dit die belangrikste persoon in die regering is en of dit sommer ‘n gewone polisieman is nie, bid vir elkeen wat moet sorg dat alles goed gaan in die gemeenskap. Julle sal die vrugte daarvan pluk, want julle sal dan in rus en vrede julle gang kan gaan en kan leef soos God wil hê julle moet leef.

Gebed is eintlik ’n spesiale gawe wat vir elkeen uitgedeel is. Dit is ’n kragtige stuk gereedskap wat God vir ons gegee het om met Hom te praat. Dit is die telefoon verbintenis tussen ons en die Here. Hoe lyk die gehoorstuk van jou telefoon? Dikkerige laag stof op?

Dit is nogal interessant dat daar gepraat word van ’n gehoorstuk en nie ’n praatstuk nie. Kyk, as ék bid, moet ’n mens eintlik praat van ’n praatstuk, want dit is net eenrigting-kommunikasie waar ek elke keer die hoof kommunikeerder is.

Waar lê die krag van gebed dan? Wanneer ek op die telefoon praat, hou ek mos so nou en dan op met praat en gee die ander een ook kans (behalwe as my skoonma aan die praat is, want dan kry die ander een maar weinig kans! Sjoe, nou is ek darem braaf!). Nee, alle grappies op ’n stokkie, wanneer ek die foon optel en met God praat, moet ek darem ook vir God ’n kans gee om Sy sê te sê. My ma sou gesê het dat dit after all net goeie maniere is.

Wanneer ons iets oor gebed in die Bybel lees, is die hooffokus God. Daarna is dit ons medemense. Paulus sê hier dat ons ook moet intree vir die land se regeerders en die mense wat die vrede bewaar.

Weet jy hoeveel gebed het hulle nodig? Hulle self weet nie eers hoeveel krag en wysheid hulle nodig het nie! Sommige van hulle is nie eens kinders van die Here nie, maar vir hulle moet ons eers bid! Hulle het elke stukkie gebed nodig, al weet hulle nie eens dat hulle dit nodig het nie!

Wanneer ek die gebedsversoeke wat by Kruispad inkom, lees, sien ek honderde mense met baie swaar. Mense wat in doodloopstrate sit en regtig nie weet watter kant toe nie. En wanneer jy tussen die lyne lees, kan jy sien dat van hulle nie verder kans sien vir die gesukkel nie.  

Ons het mekaar se gebede nodig. Ek en my gesin het verseker gebed nodig. Ek sien in my alledaagse lewe hoe die duiwel probeer om my knieë onder my uit te skop. Hy probeer met alle mag om êrens iets reg te kry sodat Kruispad kan stop.  Of dit nou by die werk of in my verhouding met my naastes is. Ek en my gesin het gebed nodig! Sonder gebed en die kragtige uitwerking daarvan kan ek nie staande bly nie.

Gebed is dus meer as net ’n gepraat en geluister. Daar is ook ’n reaksie – ’n kragdadige gevolg, want God beweeg nog. God hoor en wil graag doen. Hy soek plekke om pleisters te plak, te troos en verligting te bring. Hy wil graag Sy lig laat skyn waar mense in donkerte sit. Hy wil graag ’n stomende bord kos en ’n warm kombers onder die brug gaan aflaai.

Miskien is dit nou ’n goeie tyd om op jou knieë neer te sak en die gehoorbuis (let wel “gehoor”!) op te tel en ’n tydjie so te sit!

Amen.

Teks

1 Tim 2:1-7

Dink bietjie hieroor

Glo jy in die krag van gebed?
Vir wie moet jy nou bid?
Waarvoor moet jy vir jouself bid?

Gebed

Here, help my om tyd te maak vir gebed. Leer my om te bid. Leer my om minder te praat en meer te luister. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek