God se Woord in vandag se woorde

Om ’n spieël te wees


Ek moet in twee dae twee begrafnisse doen. Ek kuier altyd lank by die kinders sodat hulle stories van hul pa kan vertel. Dan is dit maklik om die diens te hou – so effe meer persoonlik.

Die twee begrafnisse is so vêr soos die noorde van die suide van mekaar verwyder. Die een man was baie erg siek. Hy het aan alkoholisme gely. Omtrent sy hele lewe lank.

Met die sien van die ander oom deur die nagedagtenis van sy kinders, kan ek nie anders as om ‘n reguit lyn na Jesus te trek nie. Die oom het ’n eenvoudige begin in die Noord-Kaap gehad, baie arm en swaar. Hy moes elke dag kilometers vêr stap om by die skool te kom. Hy het hard gewerk en eers later jare, toe sy kinders al groot was, buitemuurs gestudeer om sy graad te verwerf.

Die kinders val mekaar in die rede om soms tussen die trane te vertel wat hulle van pa onthou. Hy was ’n eenvoudige mens, met geen skyn nie. Hy was met alles tevrede. Sy kinders en kleinkinders was vir hom alles. Hy sal homself indoen ter wille van hulle.

Dit is veral met hierdie laaste eienskap wat ek die lyn na Jesus toe trek. Want dit is presies wat Jesus kom doen het. Hy het Homself ingedoen, nee eintlik baie meer. Hy het sy lewe kom gee deur aan ’n houtkruis vir ’n hoop sondaars soos ek en jy te sterf. En ja, ook vir die man met die alkohol-siekte.

Dankie, Oom Dries, vir die voorbeeld.

Wanneer ons na Jesus kyk, sien ons egter ook ’n ander prentjie raak. Dit is die prentjie van God. Soos Oom Dries ’n stukkie van Jesus se lewe vir ons duidelik maak, vertel Jesus weer op Sy beurt vir ons meer van God. 3Wanneer jy na die Seun kyk, sien jy eintlik vir God self en hoe wonderlik Hy is. Die Seun lyk net soos God.

Baie keer dink mense dat God ’n kwaai oom, ‘n onderwyser of ’n korporaal in die weermag is, wat net heeltyd iemand soek wat uit gelid is, sodat Hy jou met alle mag kan verskree en straf. God is vir seker nie so nie. Inteendeel, God is net mooi die teenoorgestelde.

God huil vir elke mens wat teen Hom kies. God doen alles in Sy vermoë om te keer dat een mens verlore gaan. Hy offer sy eie Seun op en Hy doen dit alles uit liefde. God is bereid om alles op te gee, sodat ons kan lewe.

Dit wat ons in Jesus se lewe hier op aarde gesien het, is ’n spieëlbeeld van wie God is. En oor albei se lewens is daar net geskryf: liefde.

Dit is ook waar van Oom Dries se lewe. Hy het die liefde van Jesus weerspieël, was die minste gewees, het vir ander geleef en orals waar hy gaan, het hy ’n verskil gemaak. Mag ons ook vandag so lewe. Mag ander vir Jesus in ons sien. Mag ons liefde uitleef. Mag ons die minste wees en ’n stukkie van onsself vir ander gee.

Teks
Hebreërs 1:1-4

Om oor na te dink
Wie sien ander as hulle na jou kyk?
Waar moet jy Jesus vir ander wees?
Hoe moet jy so leef?

Gebed
Jesus, dankie dat U vir ons wys wie God is. Dis ’n mooi prentjie. Help my om vandag ook so ’n prentjie vir ander te wys op die manier waarop ek leef. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek