God se Woord in vandag se woorde

Om ’n sticker te dra


Die laaste sin van die volgende vers laat my wonder. 16Net mooi alles, of dit nou in die hemel of op die aarde is, is deur Hom gemaak. Of jy dit kan sien of nie, of jy dink dit is sterk of nie, of jy daarvoor wil neerval en dit aanbid of nie, maak nie saak nie; alles is deur Hom gemaak. Alles wat gemaak is, moet daarna streef om Hom gelukkig te maak.

God het alles vir Homself gemaak. Elke skepsel van God vertel ’n storie en verkondig Sy naam oor die hele wêreld sodat al die eer na Hom, die Skepper kan stroom. Hoe kan ek lewe om God gelukkig te maak? Dit voel vir my asof ek dit nie kan regkry nie.

En tog is daar elke dag mense om ons wie se dade God se beeld reflekteer. Soos in Tina se lewe:

Ek het na 7 maande van siek wees vanoggend op Radio Kansel om 6 uur gehoor: Die Here gee my nuwe krag en Hy het my hulpgeroep gehoor. (Psalm 138 en Jesaja 40:31).

By my skool het ’n kollega wat in die tuin werk my bemoedig en gesê die Here kan my gesond maak. Ek moet sê: “Here, ek weet U gaan my gesond maak. Dankie, Here Jesus.”

’n Ander mede-onnie het my op die skoolgrond vasgedruk en in my oor by God gesmeek vir my genesing terwyl 200 kinders rondom ons pouse hou.

’n Vriendin-onnie het my toegevou in haar arms in die personeelkamer en gesê sy is lief vir my.

’n Ander een gee vir my ’n pakkie Cup-a-Soup.

Ek is 10 uur huis toe weens totale uitputting en pyn. Manlief het vir my ’n afspraak by ’n vreemde dokter gemaak wat my gou kon sien. Die doktor is 84 jaar oud en praktiseer van 1958 af. Hy stel vas dat my hart en longe onder kapasiteit werk weens hartritme pille wat alles verstadig en longe dan effens laat funksioneer. Hy verander my medisyne en gee anti-stresspille. (Ek dink nie ek stress nie, love my job en het passie vir skoolhou)

Hy waarborg dat die pille teen Vrydag sal help. Hy gee my ’n drukkie en ’n vaderlike soen voor ek loop. Om 8 uur die aand bel hy my persoonlik om te hoor of ek beter voel. Wow! Watter dokter doen dit deesdae?

Hy is verheug toe ek sê dit gaan 50% beter as die afgelope jaar. Al hierdie mense wat ek genoem het, wat net vandag op my pad was en met my bemoeienis gemaak het, is deur God gestuur en dra Sy sticker. Hulle woorde en dade getuig dat hulle vrugte van die Heilige Gees dra.

Alle eer aan God wat my só liefhet en Jesus wat vir my siekte genesing gebring het en die Heilige Gees wat influister in mense se gees en my help bid.

’n Tuinwerker, kollegas, ’n eggenoot en ’n dokter maak ’n verskil in een dag: Hulle “is deur God gestuur en dra Sy sticker.”

Die netto effek is dat God se Naam verheerlik word: “Alle eer aan God wat my só liefhet…”

En dít maak God gelukkig.

 Skrifgedeelte

Kolossense 1:15-20

Om oor na te dink

Dra jy God se sticker?

Waar maak jy ’n verskil?

Is God gelukkig oor jou?

Gebed

Vader, U handewerk is die wêreld vol. Enige iets wat lewe, is deur U geskep. Mag my manier van leef ’n loflied aan U wees. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?