God se Woord in vandag se woorde

Om pap batterye te charge


Filippense 4:10-20

Een ding wat my onmiddellik op-charge is as ek rustig op die bank gaan sit, die afstandbeheer neem om die TV aan te skakel, maar as ek die knoppies druk, gebeur daar niks. Dan druk ek die knoppies gewoonlik harder, asof ek hulle dwarsdeur die afstandbeheer wil druk, maar niks. As ek die afstandbeheer omdraai en die klappie van die batterye oopmaak, dan loer daar net ’n gat vir my waar die battery moes wees.

Dan bulder ek deur die huis: Wie het nou weer die remote se batterye uitgehaal. Gewoonlik kom daar dan ’n sagte stemmetjie: Dis ek, Pappa. My muis se battery was pap.

Ek het nou al ’n pak herlaaibare batterye gekoop, maar die probleem is dat niemand die pap batterye op die laaier sit nie…

Ek vermoed dat ons gesukkel deur die wêreld ook iets te doen het met ons batterye wat weg is of nie gelaai is nie. Ons sukkel om die stres van die wêreld te hanteer. Ons sukkel om ons verhoudings aan die gang te hou. Ons swak geldsake dryf ons teen die muur uit.

Almal tap energie en dis net ek wat pap by die huis kom, op die naaste bank neerval en krag vir niks het nie. As die eerste kind om die hoek kom en vra wat eet ons, het ons nie eens krag om ’n kussing op te tel om hom daarmee te gooi nie.

Ons het krag vir niks. Ons batterye is pap, sommige eenvoudig opgepak of uitgeval.

Paulus het vir ons raad. Paulus ken van swaar.

Hy ken van omstandighede wat baie energie tap. Veral die swaar omstandighede in die tronk, daar waar sy lewe konstant in gevaar is, waar hy min of geen kos gekry het nie en die fisiese en verbale aanvalle van die soldate (en kerk!) moes deurstaan. Êrens moes hy krag kry. Êrens moes hy sy batterye laai om môre weer op te staan.

Hier is sy geheim: 13Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is.

Paulus het iets besef: In sy eie krag sal hy dit nie maak nie. Sy krag is eenvoudig net te min om sy batterye te laai. Met sy eie krag sal hy nie deur die dag kan kom nie. Dit is net Jesus wat sy batterye genoeg kan laai om deur die dag te kom.

Dit is eintlik so eenvoudig om te verstaan. Wanneer die afstandbeheer se batterye nie meer werk nie, moet dit in die herlaaier geplaas word om weer krag te kry. As dit vir ’n paar uur gelaai word, het dit weer krag om lank te werk.

Hoekom probeer ons die wêreld daar buite aanvat op ons eie krag? Ons moet besef dat ons krag daarvoor te min gaan wees en dat ons êrens pap gaan word.

Dalk is dit tyd dat ons besef dat ons krag eenvoudig te min is om die lewe te leef. Dalk moet ons besef dat ons versterkings sal moet inkry. Dalk het dit tyd geword dat ons weer na God keer sodat Hy ons batterye kan laai.

Dalk is dit die oplossing vir jou probleme?

Om oor na te dink

Hoe lyk jou energievlakke?

Wat tap jou energie?

Kry jy krag by God?

Gebed

Vader, daar kom tye wanneer my krag ook op is. Tye wanneer ek so pap is dat ek voel ek kan slaap vir ’n week. Ek besef dis eintlik laf om die wêreld op eie krag aan te durf. Ek besef dat ek slegs met U krag deur die dag kan kom. Help my, Here, om tog elke dag my krag by U te kry. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?