God se Woord in vandag se woorde

Om reg te lewe


Die Woord van God is daar om ’n mens te rig en te help sodat ons leer hoe om die lewe reg te loop. Soms hou een woord ’n mens lank besig. Die woord “opregtheid” in vers 12: God laat ons met wysheid en opregtheid leef, het my vir twee dae besig gehou. Ek het aanhou vra wat die woord nou eintlik vir my wil vertel van hoe ek moet lewe.

Ek het eintlik geskrik toe ek vir oom Google vra om vir my te vertel wat die woord alles beteken. Om in opregtheid te leef beteken om soos volg te wees: eerlik, regtig, werklik, vol waarheid, hartlik, uit die hart van jou hart, ernstig, vurig, sonder voorwendsel, in goeie trou, ensovoorts.

Sjoe, die een woord sê darem ’n klomp goeters en ek lees dit weer en weer. Dalk moet jy dit ook doen?

Maar soos ek grawe om die woord presies te verstaan, sien ek dat die oorspronklike Griekse woord ook vertaal kan word met “regverdigheid”. Vers 12 lees dan soos volg: God laat ons met wysheid en regverdigheid leef.

Ek vra weer vir oom Google en, soos verwag, is daar weer ’n rits woorde om dit beter te beskryf: goed, deugsaam, regop, opreg, ordentlik, waardig, eties, beginselvas, regverdig, eerlik, onskuldig, onberispelik, eerbaar, anti-korrupsie, heilig, suiwer, edel, vroom, godvresend, ensovoorts.

Sjoe! Ek sit lank en lees die klomp woorde oor en oor.

Ek weet nie van jou nie, maar by ’n klomp van die woorde kan ek nie die boksie afmerk nie. Sommige van die woorde beskryf nie honderd persent altyd my optredes nie. En ek voel half sleg daaroor. Ek probeer tog so hard, maar ai, daar is oomblikke wat ek dit net verloor en opregtheid en regverdigheid by die agterdeur uit glip.

Gou-gou wil ek mismoedig word en ek besef as ek nou die kar se stuurwiel los, ek myself in ’n donker swart gat gaan laat val.

’n Prentjie van ’n baba wat wil probeer loop, kom by my op. Dis baie keer se val en opstaan voor die baba dit regkry. As die baba halfpad deur die gevallery tou opgooi, dan gaan die baba nooit leer loop nie. En so baie mis.

Net so moet ons nie moed opgee nie. Ons moenie mismoedig met onsself word nie. Ons moenie in die klomp kere se val vaskyk nie, want as ons dit doen, sal ons net mismoedig word en op die ou end in die swart gat beland.

Ons moet eintlik kyk na al die kere se opstaan. Die kere wat ons dit reggekry het om wel opreg en regverdig te wees. Dit sal ons help om, wanneer ons dalk volgende keer weer val, vinniger op te staan, want ons weet ons kan.

Ons het almal nog ’n goeie skoot van die sondeval weg. Ons moet besef dat ons wel nog hier en daar gaan glip. Ons moet dit egter nie as ’n verskoning gebruik nie, maar eerder as aanmoediging om rêrig te probeer om teen die swakheid op te staan.

Kom ons probeer om in opregtheid en regverdig te lewe. En as jy mooi na die twee woorde kyk, sien jy dat daar een woord in albei verskyn, naamlik “reg”. Ja, kom ons probeer ons bes om in alles reg te lewe.

Teks
Tit 2:11-14

Om oor na te dink
Waar ontbreek opregtheid in jou lewe?
Waar ontbreek regverdigheid in jou lewe?
Hoe moet jy anders maak?

Gebed
Here, help my om op te hou om situasies en mense te beheer soos wat dit my pas. Help my om eerlik en opreg te wees, selfs al beteken dit ek moet my swakhede erken of ‘n moeilike situasie wat ontstaan, hanteer. Dis so moeilik, Here, maar dit is wat U eer gee, en ek weet U sal my met die gevolge help. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek