God se Woord in vandag se woorde

Om skoon te bly


Titus moet die ouer vrouens vra om die jonger gemeentelede te help om wys te wees, maar ook kuis (vers 5). Kuis is ’n woord wat ons nie meer lekker verstaan nie, maar ek vermoed Die Boodskap-vertaling slaan die spyker op sy kop: … om hulle nie aan buitehuwelikse verhoudings skuldig te maak nie.

Ek moet bieg, ek is baie dankbaar dat ek nie nou ’n tiener of jongmens is nie, want sjoe, hulle word darem getempteer met pornografie om elke hoek en draai. Enige plek op enige skerm, met die tik van ’n paar letters, kan jy sien wat jy wil. Inge-zoom. In ons dae moes ons in die agterstrate se kafees vir ’n Scope gaan soek en dan was alles nog met sterretjies toegeplak.

Ons staan dalk nie genoeg hiervoor op nie. Die impak van pornografie is ongelooflik afbrekend. Dit smokkel met ’n mens se kop. Dit maak ’n mens vuil. Dit dons hierdie mooi gawe wat God die mens gegee het, ses nul op. Ek wonder of dit nie die grootste oorsaak is dat huwelike in die hek duik nie?

Die wêreld stel ’n plastiekprentjie van intimiteit voor en nou moet die ander party daarby kers vashou. En as hy of sy dit nie regkry nie, ruil ons hulle vir ’n nuwer model in.

Ons sal moet sterk staan hier. Ons sal ons kinders en jongmense moet help om sterk te staan. Hulle is so onder druk en die voorbeelde wat hulle van die mense na wie hulle opkyk kry, is dikwels een groot gemors. Daar is eintlik nie meer reëls nie en elkeen doen wat hy of sy wil.

Ek gaan nou die dag in gesprek met ’n jong outjie wat wil weet of hy nie saam met sy meisie kan intrek nie: “Ons gaan tog trou en weet Oom hoe duur is dit om te huur? In haar woonstel staan ’n kamer oop en in myne ook. Dit maak net nie sin nie.”

Ek sê vir hom dat ek vermoed die vraag is nie of hulle saam kan intrek nie, want daarmee is daar mos geen probleem nie. Die vraag wat hy eintlik wil vra is of hulle intiem kan verkeer, want hulle gaan mos trou. Hulle woon dan saam soos man en vrou, hoekom dan nie maar al die pad gaan nie.

Die probleem is dat dit so maklik geword het om net uit te loop. Selfs nie eers ’n ring is goed en sterk genoeg om man en vrou bymekaar te hou nie. Nog minder ’n lewenslange belofte.

Ek vra hom of hy graag met ’n maagd wil trou. “Ja Oom,” sê hy skaam. Maak die som. I rest my case.

Maar natuurlik is dit nie net vir die ongetroudes nie. Getroudes moet ook kuis wees. Ons moet ook seker maak dat ons nie oor die grense van ons huwelike foeter nie. So maklik raak die kaperjolle in ons eie huwelik so ‘n bietjie saai en wanneer iemand daar by die kantoor of by vriende meer aandag aan jou gee, verskuif jou fokus.

Jy voel weer goed. Jy voel weer jonk. Jy het weer skoenlappers in jou maag. Jou kop smokkel met jou en hoe belaglik dit ook al klink, laat glo jy jouself dis reg. Jy verdien dit mos.

En die gevolge is net een groot hoop seer met geen wenners nie.

En as jy dalk êrens oor die tou getrap het, êrens verkeerd gekyk of gedink het, vra God om verskoning. Hy sit met groot kanne genade en vergifnis.

Kom ons maak seker dat ons nie vasval en vasgevang word in die prentjies agter ons skerms nie. Kom ons bly rein. Kom ons bly skoon.

Teks
Tit 2:1-5

Om oor na te dink
Het jy al verkeerd gemaak hier?
Aanvaar jy God se vergifnis?
Wat moet jy anders doen?

Gebed
Vader, dit is U wil dat ons heilig moet lewe. Ons liggame is U tempel. Vergewe ons ons oortredinge en help ons om U wil vir ons te ken en daarvolgens te leef. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek