Om te wrok of nie te wrok nie
Soms is daar dinge in ’n mens se lewe wat ’n mens se spoed breek. Sommige trek soveel amps dat ’n mens nie die lewe ten volle kan geniet nie. Soms is dit dinge wat ons aan onsself gedoen het. Soms is dit iets wat ander mense aan ons gedoen het. En dit is gewoonlik laasgenoemde wat in die vorm van ’n wrok in ons harte kom lê.
Soos ’n klippie in ’n skoen keer dit dat ons op spoed kom. Orals steek die wrok sy kop uit en steel ons geluk. En die ergste van alles is dat die een wat dit teen ons gedoen het, lankal aanbeweeg het.
Dis nie goed vir ’n mens om ’n wrok saam te sleep nie. Wanneer ons ’n wrok koester, wanneer ons toelaat dat ’n slegte gebeurtenis in die verlede broei, gee dit langdurige spanning en ons weet dat spanning ’n mens net aftakel. Don Colbert sê in sy boek Sewe pilare van gesondheid: “Wanneer jy weier om te vergewe, is dit soos om aanhoudend die roof van ’n wond af te trek sodat dit nie kan genees nie. Jy ketting jouself aan langtermyn spanning vas.”
Paulus is in die proses om “lelike dinge waarvan God nie hou nie” op te noem. Hierdie is een van hulle: 7Om ’n wrok te dra doen ook niemand goed nie.
Behalwe dat God dit as ’n lelike ding sien en Hy niks daarvan hou nie, is dit eenvoudig net nie goed vir ons nie. Dit werk negatief in op ons liggame. Dit verkort ons lewe. Dit steel ons vreugde en keer ons om by ons droom vir ons lewe uit te kom.
Daar is eenvoudig niks goeds daarin om ’n wrok te dra nie. Maar vergewe kom nie maklik nie!
Rosie (skuilnaam) praat uit haar hart:
Ek weet van onvergifnis.
Eers het my gebed gevoel: “Ek wíl nie vergewe nie.”
Toe kom die volgende stap: “Ek kán nie vergewe nie.”
En toe: “Here, ek wil vergewe, maar ek kan nog steeds nie. Help my.”
Die hele proses het drie jaar gevat (dertig jaar ná die gebeure).
Toe eers kon ek eendag bel en sê: “Die grootste verjaarsdaggeskenk wat ek jou kan gee is om jou te vergewe vir wat jy dertig jaar gelede aan my gedoen het.”
En al die jare was ék alleen die gevangene.
Vergifnis het my vry gemaak! En ek dank die Here wat my stap vir stap daardeur gelei het. Prys die Here!
Lindie (skuilnaam) gee ons moed:
Ek was ge-hijack en moes ook vergewe nadat hulle my geskiet het. As die Here my nie die krag gegee het om uit die bewegende kar te spring nie wil ek nie eers weet wat hulle met my sou doen nie. Die Here het my gehelp om hulle vry te spreek.
Kom ons neem die besluit om die wrok stadig maar seker uit te haal en die moeilike pad van vergifnis te stap. God sal ook vir ons help!
Teks
Om oor na te dink
Wie het iets aan jou gedoen?
Kan jy vergewe?
Hoe?
Gebed
Vader, die een is nie maklik nie. Ek was die onskuldige een. Ek het nie hiervoor gevra nie en tog is dit aan my gedoen. Hoe moet ek vergewe? Hoe moet ek vergeet? Ek weet ek moet die wrok uitgrawe, maar hoe? Amen.