God se Woord in vandag se woorde

Om uit jou boeie bevry te word


Die dorp waar ek woon word geruk deur moorde. Ek kan my die vrees en angs nie indink waardeur vermoordes voor die tyd moet gaan nie. Dit maak nie vir my sin hoe ’n seun sy pa en ma en toe sy broer met ’n byl kan doodkap nie.

Hy word skuldig bevind en moet vir baie jare in die tronk gaan sit. Sommer die eerste dag in die tronk is sy lewe in gevaar. ’n Mede-tronkvoël kom hom net betyds te hulp.

Tronke is nie vir ordentlike mense nie. Die genade loop dun. Liefde kruip weg. Jy kan seker nie iets anders daar verwag nie.

Omstandighede binne tronke het nie veel verander sedert 2 000 jaar gelede nie. Dis in sulke walglike omstandighede waarin Paulus sit. Hy vrees vir sy lewe. Die mense wat in die tronk is, is nie lekker mense nie.

Te midde van die omstandighede sê hy die volgende: 9Dit (Jesus se oorwinning oor die dood) is die kern van die goeie boodskap wat ek vir julle vertel. Daarvoor kry ek swaar, al moet ek soos die een of ander krimineel geboei hier in die tronk sit. Gelukkig kan niemand ooit God se boodskap met kettings vasmaak en in ’n tronk gooi nie.

As ek kyk na die prentjie van ons tronke vandag, maak die swaar wat Paulus moet deurgaan vir my meer sin. Dis nie ’n mooi prentjie nie. Dis heel waarskynlik nog erger as wat dit vandag is. Soos ’n misdadiger word hy mishandel. Hy lewe die heeltyd in vrees. Sy lewe is niks meer werd as die bakkie koue sop en droë brood wat hulle vir ete kry nie.

Tog fokus Paulus nie op die omstandighede nie. Ja, hy erken die swaar, maar hy laat nie toe dat dit hom onderkry nie. Sy fokus is op die verlossende boodskap van Jesus. En dit gee hom hoop. Dit gee hom krag om die volgende oggend na bitter min slaap met ’n lied die dag tegemoet te loop. Hy sien kans vir wat ookal na sy kant toe gegooi word.

Paulus verstaan God se boodskap. Hy ken dit en hou dit binne sy hart vas. Hy weet dit kan nie met boeie vasgemaak word nie. Inteendeel! Daar is niks wat God se woorde kan vasbind nie. Dis eenvoudig te sterk, te groot, te lewegewend. En dit gee vir hom hoop in ’n hopelose plek. Dit gee hom krag, waar hy kragteloos in boeie sit. Dit motiveer hom waar ander ongemotiveerd is om op te staan en aan te hou lewe.

Dit is wat God se boodskap doen. Dit raak die petrol waarmee ons vorentoe beweeg, al lyk die toekoms duister.

Dis vir ons ’n groot les. Dalk is die omstandighede waarin jy nou sit ook duister. Dalk vrees jy. Dalk is jy moeg geploeg en pap van al die spanning ronddra. Dalk het jy al alles probeer, maar nêrens skyn daar ’n stukkie lig nie. Dan is dit nou juis die tyd om na God se Woord te keer. Daar is lig. Daar is liefde. Daar is hoop. Daar is vrede. Daar is verlossing. Daar is die antwoord.

Laat God en Sy Woord in jou lewe toe om só uit jou boeie bevry te word.

Teks
2 Tim 2:8-13

Om oor na te dink
Wat hou jou vas?
Waarvoor sien jy nie kans nie?
Hoe kan God se Woord jou help?

Gebed
Here, U boodskap kan nooit deur enige iemand vasgebind en onaktief gemaak word nie. U Woord is lewend en het die krag en mag om lewens en omstandighede te verander. Herinner my asseblief daaraan in moeilike omstandighede. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek