God se Woord in vandag se woorde

Om vir God dankie te sê


Sjoe, kan jy dit glo? Ons het al 100 maal stilgestaan by Kolossense en nog is dit het einde niet. Kolossense bevat soveel waarhede. ’n Mens kan sien dis ’n Goddelike Woord. Geen mens kon dit so reggekry het nie. “Dankie, Vader, vir U inspraak en dat ons 2 000 jaar later steeds by U voete uit U Woord kan leer!”

Ja, dis wat ons moet doen. Ons moet op ons knieë neerval en vir God bedank vir alles wat ons van Hom kry. So maklik raak ons gewoond aan alles rondom ons dat ons dink dit moet so wees. Ons moet elke oggend opstaan. Ons moet kos hê. Ons moet gesond wees. Maar vra maar vir mense waar die voorafgaande net eenvoudig opgedroog het, dan besef jy dat jy 100% afhanklik is van God se genade.

Ons het net een lewe. Daar is nie nog ’n kans nie. As jou gesondheid ingekonk het en daar geen geneesmiddel is nie, kan ons nie na die naaste garage stap en die oue gaan inruil vir ’n nuwe nie. Het jy al ooit so daaraan gedink? Net een pakkie lewe en nêrens nog ’n pakkie om te koop nie.

Wanneer ons dan in die oggend wakker word en besef dat God ons nog ’n kans gee, dat Hy nog steeds vir ons sorg en toesien dat al die parte werk, kan ons nie anders as om op ons knieë neer te val en vir God dankie te sê vir al die genade wat Hy so aanhoudend oor ons laat reën nie. Ja, alles, maar alles is net genade.

Eintlik nóg meer as dit – ons sê nie net dankie nie. Ons hele lewe is dan ’n lewe van dankbaarheid. Alles wat ons doen, wys terug na ons dankbaarheid teenoor God. Selfs wanneer ons ons vriende reghelp, is dit uit dankbaarheid vir wat God vir ons gedoen het. 16… Leer mekaar wat reg en verkeerd is. As iemand ’n fout maak, help hom reg. Gebruik ook psalms en ander liedere om dit te doen. Sing uit julle hart uit, want met hierdie geestelike liedere sê julle ook vir God dankie.

En dit is een van die grootste waarhede wat ek ooit in my lewe kon snap. Ek het so gesukkel om vir God dankie te sê. My woorde was min – ’n mens kan die woord dankie net soveel keer gebruik, dan word dit afgesaag. Toe sê iemand vir my ek moet ’n Psalm lees wanneer ek vir God wil loof en dankie sê dat Hy my so al langs die pad van die lewe help.

Wow! En kan Dawid en die ander digters dit nie mooi sê nie! Kyk net na Psalm 138:

1Ek sal die Here met my hele lewe prys. Ook al dien mense rondom my ander gode, sal ek U grootmaak. 2U sal ek loof en aanbid, want ’n mens kan U vertrou. U het u kinders baie lief. Omdat u Naam op die spel is, het U belowe om u kinders altyd lief te hê. 3Op ’n dag het ek tot U gebid. U het na my geluister en my gehelp. My lewe het verander, want U het my nuwe moed en krag gegee. 4Almal wat op die aarde regeer, sal U loof, Here.
Laat hulle tog net hoor wat U sê en doen.
5Hulle sal sing oor wat die Here met mense doen. Niemand is belangriker as Hy nie. 6Niemand is groter as die Here nie. Sy grootheid lê daarin dat Hy mense raaksien en help wat dit nie self kan doen nie. Maar mense wat dink dat hulle beter as ander is, kyk Hy mis. 7Wanneer ek in die moeilikheid is, help U my. Mense kry my nie onder nie. U keer dat mense wat my wil seermaak, dit regkry. U red my uit hulle kloue. 8Die Here sal vir my sorg totdat ek die dag doodgaan. U liefde hou nooit op nie. Moet asseblief nie ophou om vir my goed te wees nie.

Kom ons maak gedurig ons Bybels oop by die Psalms. Kom ons loof God se Naam hardop. Kom ons vertel ons tjommies van ons Grote God. Hy verdien al ons lofprysing. Aan die grote God kom al die eer toe!

Teks

Kolossense 3:12-17

Om oor na te dink

Eer jy vir God genoeg?

Hoe kan jy Hom meer eer?

Hoe kan jy jou dankbaarheid meer bewys?

Gebed

O God, my God. Daar is geen ander soos U nie. Ja, U is die begin en die einde en sonder U asem in my is ek niks meer as ’n stofkorreltjie nie. U gee lewe. U is die Sterke en Almagtige. Dis U wat my staande hou as die storms om my woed. Sonder U kruip ek agter my bed weg en bewe my broek vir die kleinste stukkie geraas. Agter U skuil ek voortdurend. Aan U kom al die eer toe, nou, môre tot aan die einde. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek